HESSEQUA NUUS - “Net ’n vinnige loopdoppie, dit kan nie skade doen nie.”
Menige partytjieganger hoor dié woorde wanneer hy of sy wil groet. ’n Hele aand van verantwoordelik alkohol gebruik kan hiermee na die maan wees, want ’n halwe bier of glas wyn te veel kan die alkoholinhoud in ’n persoon se bloed hoër as die wetlike perk vir motorbestuurders opstoot.
Uit ’n blitsopname gedoen deur Suid-Kaap Forum blyk dit duidelik dat meeste mense onseker is hoeveel drankies hulle per uur kan neem sonder om die wet te oortree indien hulle daarna bestuur.
Raymond Murray van Heidelberg reken so twee biere per uur behoort veilig te wees.
George van den Berg: "Twee."
George van den Berg van Stilbaai stem saam met twee drankies, maar verkies dat iemand anders bestuur na ’n kuier.
Noluthando Sedi: "Drie."
Noluthando Sedi van Riversdal beskou drie biere per uur as veilig.
Sonja Joubert en Angelique Saayman: "Een."
Dyron Daniels: "Een."
Sonja Joubert en Angelique Saayman van Stilbaai, asook Dyron Daniels van Riversdal sê hulle sal slegs een bier per uur drink as hulle moet bestuur.
Vivian Hartnick: "Half."
Hanlie Lubbe: "Half."
Volgens Vivian Hartnick van Riversdal en Hanlie Lubbe van Stilbaai is ’n halwe bier die perk. Lubbe wat ’n restauranteienaar in die kusdorp is moedig kliënte aan om baie water tussen drankies te drink.
In Suid-Afrika is die wetlike perk ’n bloedalkoholinhoud van 0.05g per 100 ml. In terme van die blaaspypietoets word 0.24 mg per 1 000 ml toegelaat. Die formule kan bereken word deur die volume van die drankie (in milliliter) te vermenigvuldig met die persentasie alkohol soos aangedui op die blik of bottel. Die getal moet dan deur 1 000 gedeel word om te bepaal hoeveel eenhede alkohol in die drankie is. ’n Bier van 350 ml x 5% alkoholinhoud, gedeel deur 1 000 is dus gelyk aan 1.75 eenhede alkohol. Daarvolgens is dit duidelik dat iemand anders sal moet bestuur indien meer as een bier elke twee ure gedrink is.
IN SHORT
In South Africa the legal driving limit is a breath alcohol content of 0.24 mg per 1 000 ml, or a blood alcohol limit of 0.05g per 100 ml. The formula to calculate one unit of alcohol is: Multiply the volume of the drink (in millilitres) by its percentage alcohol by volume and divide by 1 000, to determine the number of units of alcohol in the drink. 350ml x 5% divided by 1000 = 1.75 units of alcohol. This means that consumers should drink one 350ml bottle every two hours to remain within the legal driving limit.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'