RIVERSDAL NUUS - Die stof wil maar net nie gaan lê oor die voorgestelde heffing op inwoners wat na die 0 - 32 ampère stroombreker afgegradeer het nie.
Dié gebruikers sal dalk moontlik binnekort R156.75 per maand ekstra moet opdok.
Hessequa-inwoners en groepe het hulle tot sosiale media gewend om hul besware en teenkanting teen die voorgestelde heffing te opper.
Om die gemoedere te kalmeer, het die speaker van Hessequa-munisipaliteit, Andrew Stroebel, 'n video op sosiale media geplaas waarin hy die redes vir die voorgestelde basiese heffing breedvoerig uiteensit.
Hy sê in die video inwoners dink die infrastruktuur in Hessequa word geensins deur beurtkrag geraak nie en bevraagteken nou die voorgestelde heffing. "Dis eenvoudig nie waar nie. Al nege dorpe binne Hessequa word deur beurtkrag geraak. Dit sluit alle infrastruktuur in die munisipale omgewing in soos water- en rioolpompe en alle geboue."
Stroebel vra dan hoe dink inwoners kry die munisipaliteit dit reg dat water bly vloei en riool nie in die strate of selfs in die see uitloop nie. "Die antwoord is: met kragopwekkers."
Hessequa het in Februarie vanjaar in sy aansuiweringsbegroting 'n ekstra R13 miljoen vir brandstof begroot om dié kragopwekkers aan die gang te hou. Die hoofdoel daarvan, sê Stroebel, is om te sorg dat die riool bly vloei by verskeie pompstasies in al nege dorpe en natuurlik ook om water te bly suiwer en na wonings te pomp.
"Die munisipaliteit moet sy sisteme aan die gang hou sodat inwoners, wat krag by buitebesighede aankoop, dit steeds kan doen.
"Met beurtkrag het inwoners ook ongeveer R12 miljoen minder elektrisiteit aangekoop. Voeg die R13 miljoen by vir diesel en skielik sit Hessequa met R25 miljoen aan ekstra uitgawes en verminderde inkomste wat 'n groot invloed op die finansies het."
Hy sê in die huidige finansiële boekjaar het inwoners nie 'n sent meer betaal vir dié uitgawes nie. "Alles is verhaal uit bestaande fondse en nie 'n sent ekstra is op inwoners se diensterekeninge gehef om die dienste aan die gang te hou nie."
Nog 'n vraag wat hy aanraak gaan oor die beoogde nuwe tarief en wie dit almal raak. Stroebel sê Hessequa het sowat 65 000 inwoners waarvan 18 000 rekeninghouers is. Daar is ongeveer 5 000 inwoners op die deernisregister en hulle betaal geen basiese bydrae ten opsigte van die elektrisiteitsnetwerk nie.
Stroebel vertel die mense wat deur die nuwe basiese heffing geraak gaan word, is persone wat op 'n kol afgegradeer het van 60 ampère na 30 ampère - of 'n 32-alternatief soos dit in interne kringe bekendstaan.
"Daar is verskeie redes vir dié afgradering," sê hy. "Dis hoofsaaklik om kostes te bespaar. Baie is byvoorbeeld enkellopendes of senior burgers wat in wonings bly waar hulle nie baie elektrisiteit benodig nie."
Die vraag wat baie mense nou vra is waarom moet dié heffing ingestel word vir mense wat min krag gebruik. Stroebel sê dis baie basies en prakties:
"Die munisipaliteit moet lenings uitneem om die netwerkopgraderings te doen. Nuwe netwerklyne moet deurgetrek word - dis die groen bokse wat oral op sypaadjies in die dorp opskiet en onderhou moet word. Baie van die bestaande lyne het moontlik die einde van hul leeftyd bereik en met nuwe lyne vervang word.
"Nie alles word deur lenings gefinansier nie, maar definitief 'n gedeelte daarvan. Daar is kapitale en rentedelgings op dié lenings. Die groen bokse op die sypaadjies moet gereeld gediens word en so ook die interne netwerklyne. Die onderhoudskoste en die opgradering van netwerke is astronomies. Daarbenewens is daar amptenary betrokke en van hulle het voertuie nodig. Dis alles ekstra kostes."
Stroebel verduidelik dat wat nou in die praktyk gebeur, is dat inwoners wat dit wel kan bekostig alternatiewe energiebronne, soos solarpanele of batterystelsels, by hul wonings insit. "Nou wil diegene wat byvoorbeeld solar ingesit en na 30 ampère afgegradeer het, weet hoekom hulle 'n fooi moet betaal?"
Hy sê om van 60 na 30 ampère af te gradeer is gratis, maar die gedeelte waarvoor inwoners wel moet betaal, is wanneer hulle van 'n konvensionele rekening na 'n voorafbetaalde meter toe skuif. "Daar is kostes daaraan verbonde, soos die meter wat geïnstalleer moet word en so meer."
Volgens Stroebel is dit maklik om te bepaal hoeveel mense nog steeds van die munisipale netwerk afhanklik is. "Dis letterlik 'n handjie vol mense uit die 18 000 rekeninghouers wat geen eenhede meer aankoop nie."
Wat insiggewend is, sê Stroebel, "Is dat inwoners wat solarpanele op dakke sit wat noord front, ondervind dat dit nie in al hul behoeftes voorsien nie. Daar's eenvoudig nie genoeg spasie nie of te duur en dus kan hulle nie hulself volledig van die netwerk afhaal nie.
Daardie huiseienaars benodig soms, veral in die winter, op bewolkte dae of wanneer dit lank reën, krag om byvoorbeeld batterye te laai en dan moet hulle op die munisipale netwerk terugval. Of as hul solarstelsels probleme gee, moet hulle die gemoedsrus hê dat hulle op munisipale krag kan staatmaak om batterye te laai of krag te gebruik.
"Die boodskap wat ons wil uitstuur is beslis nie gaan oor op solar en jy word nie gehef nie. Elkeen moet verantwoordelikheid neem as hy van die netwerk gebruik. Een of ander tyd moet hy 'n bydrae maak tot die netwerkinstandhouding en kostes soos genoem.
"Die verantwoordelikheid is daar by elke inwoner om wel sy bydrae in 'n pot te gooi vir uitbreidings van die netwerk, instandhouding daarvan en kostes soos genoem. As 'n inwoner met solar skielik probleme ondervind met die munisipale netwerk wat dalk uitskop, gaan hy vir seker die munisipaliteit bel. En dit bring kostes mee wat iemand, die gebruiker, moet betaal."
Só lyk voorgestelde tariewe
Die voorgestelde tarief vir 'n persoon op die 60 ampère stroombreker wat steeds 'n rekening ontvang en nie 'n voorafbetaalde meter het nie, is R627 (sonder BTW) per maand vir die basiese fooi.
In die nuwe finansiële jaar is die bedrag (op 60 ampère vir voorafbetaalde kliënte) R313.50 sonder BTW.
Mense met rekeninge wat op 30 ampère is, betaal ook R313.50.
Huise met 'n munisipale waardasie van minder as R850 000 en op 30 ampère word vrygestel van enige heffing ongeag of hulle solar op die dak het of nie.
"Dit gaan dus streng oor ampère klas en huishoudings se waardasies. "As u huis se waarde wel bo die R850 000-kerf is en u is op die 30 ampère voorafbetaalde opsie, is die voorgestelde tarief R156.75 sonder BTW.
"Vir R156.75 kry u gemoesdrus wanneer u wel die netwerk benodig, dit altyd beskikbaar sal wees as daar nie nasionale beurtkrag is nie en dat dit in stand gehou sal word. As dinge lol by die groen boks, sal die munisipaliteit uitkom om dit reg te stel."
Stroebel sê die munisipaliteit het inwoners na die uitreike uitgenooi waar verskeie voorgestelde tariewe bespreek is. "Dit was in Suid-Kaap Forum geadverteer en oral op sosiale platforms en webtuistes. Dis werklik 'n jammerte dat mense steeds verkies het om nie dié uitreike by te woon en hul insette te lewer nie. Dis was die ideale platform om te konsulteer en na belangrike inligting rakende die voorgestelde fooie te luister."
Die afsnypnt vir kommentaar het nou gesluit en nou moet alles een vir een deurgewerk word om die finansiële haalbaarheid, om slegs een faktor te noem, te bepaal. Nog niks is afgehandel nie en die konsep begroting word eers op 31 Mei finaal deur die munisipale raad oorweeg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’