HEIDELBERG NUUS - Slegs 'n week na daar naarstiglik na 'n 16 maande oue baba op Heidelberg gesoek was, het 'n munisipale werker op 'n fetus by die plaaslike rioolpompstasie se inlaatwerke afgekom.
Die fetus is Woensdag, 12 Mei net voor 16:00 ontdek terwyl die werker besig was om die riool te sif.
Andreas Titus vertel dat hy die skok van sy lewe gekry het toe hy op die fetus afkom.
"Ek het my kollega onmiddellik geroep. Dit sal my altyd bybly," het hy geskok gesê.
Jacob Peters vertel dat hy op sy beurt dadelik die polisie en sy seniors in kennis gestel het. Heidelberg-polisie het die perseel afgesper terwyl hulle op die forensiese patologiese dienste gewag het.
Intussen het 'n groot groep inwoners en kinders na die perseel gestroom. 'n Soortgelyke vonds is ook in Oktober 2015 op dieselfde perseel gevind.
Enigiemand wat meer inligting hieroor kan verskaf, word gevra om dadelik met die polisie in verbinding te tree.
Kontak die dienssentrum (028 722 1910) of die kommunikasiebeampte, ao Alroy Windvogel (082 522 1245). Alle inligting sal vertroulik hanteer word.
‘n Lid van die forensiese patologiese dienste verwyder die fetus uit die mangat.
Andreas Titus wat op die fetus afgekom het, staan erg geskok by sy kollega, Jacob Peters op die perseel. Foto's: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'