HEIDELBERG NUUS - Die kunsaanbod by die sesde Hessequa Harmonie-kunstefees op Heidelberg is vanjaar ‘n reuse-aantrekkingskrag en spog met gehaltewerk.
Die opdrag-uitstalling heet "Forté: In volle vlug," met die tema die hart van die boom, byeengebring deur Anne-Ghrett Erasmus, die kurator van die Breytenbach-sentrum in Wellington.
Dié versameling sluit skilderkuns, beeldhouwerk, fotografie en kunsvlyt deur kunstenaars van oral oor in.
Die Hessequa-kunsroete se uitstalling Tydloos is onder die kuratorskap van Louise Kluyts. Altesaam 22 van die streek se kunstenaars stal hul nuutste werke in die stadsaal uit.
Verskeie ateljees in Van Riebeeckstraat is bedrywig.
Die Swellendam-kunstenaar Mark Matthysen bied ‘n solo-uitstalling by die hotel aan. Dit is ‘n kunsreis van twintig jaar se inspirasie van patroon, tekstuur en kleur.
Die fokus van die Trio-uitstalling by die Firefly Studio val op die kreatiwiteit van klei, metaal en glasuur. Die keramiekkunstenaars Dina Grobler, Hendrik Theart en Johann Prinsloo bied asemrowende werk in dié kunsstyl aan.
Die Ensemble-uitstalling by die Star Nation-galery versamel treffende kontemporêre werke in houstkool, pastelle en akriel deur die Swellemdam-kunstenaar Francois Gunter. Heidelberg word deur Louise Kluyts, Zelda Truter, Cecelia le Roux en Sonja Malherbe verteenwoordig.
Feesgangers kry ook die geleentheid om by verskeie ateljees kunsslypskole in keramiek, skets en mesmaak (deur die metaalmeester Pieter van der Bank) by te woon en om onder die wakende oog van die beeldhouer en kopersmid Andries Kluyts ’n braaipan te maak.
Die kinderkunsuitstalling met die tema Ons hou die kunspot aan die kook bring die 187 inskrywings by die biblioteek byeen.
Die klein fees met die groot hart is 'n uitbundige viering van kreatiwiteit en duur nog tot môre, 23 September.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’