RIVERSDAL NUUS - 'n Groentetrok met die varsste groente uit die distrik, jong entrepreneurs wat hul ontluikende sakevaardighede hier wil toets, en heerlike koffie.
Dis maar enkele van die goed uit die groot aanbod wat inwoners en besoekers Saterdag kan verwag by die Riversdal Familie-leefstylmark wat by Jurisch Park plaasvind.
Die mark in dié park open om 09:00 en duur tot om 15:00. Dit sal van 3 Desember af tot 7 Januarie 2023 op elke Saterdag aangebied word.
Die leefstylmark kan met reg as 'n familiesaamtrek beskou word, want dit bied iets van alles. Nie net jou gewone ditjies en datjies nie, maar iets vir oud en jonk. Afgesien van die kosstalletjies, versnaperinge en allerhande lekkernye wat te koop gaan wees, sal daar boeke en handgemaakte produkte vir die kieskeurige koper beskikbaar wees.
Ook handgemaakte klere en natuurlik vars plaasprodukte.
Vir die kinders is daar 'n springkasteel en gesigverf om hulle op te vrolik en ook heerlike musiek vir diegene wat net wil sit en luister met 'n lekker koppie koffie in die hand.
Antoinette de Swardt en Nicole du Plessis van Circle Dance Events, die dryfkrag agter die mark, het aan Suid-Kaap Forum gesê die mark het die potensiaal om Jurisch Park in 'n bate vir die dorp te omskep, maar dit sal afhang van die ondersteuning uit die gemeenskap.
"As die inwoners nie gaan inkoop en die mark kom ondersteun nie, sal al ons planne en harde werk tevergeefs wees.
"Maar ons verwag 'n goeie opkoms. Mense is oor die algemeen baie positief dat die dorpsmark weer gaan herleef en het aangedui dat hulle dit wil ondersteun. Die puik ondersteuning wat ons ook van Hessequa-munisipaliteit en Hessequa-Toerisme af kry is, is prysenswaardig. Hulle is bereid om al die pad saam met ons te stap."
Antoinette sê hulle het baie moeite gedoen om die sekuriteit vir besoekers op standaard te kry.
"TFR Sekuriteit sal daar wees om na die veiligheid van almal om te sien. Ons gaan spesiale moeite doen om die plek in 'n veilige omgewing vir veral kinders te omskep.
"Ons glo die mark sal nie net 'n platform skep vir jong entrepreneurs en ander uitstallers om hul produkte te kom verkoop nie, maar ook die stimulus wees wat Jurisch Park weer in 'n juweel vir Riversdal kan omskep.
"Dis eintlik 'n gemeenskapsprojek waarby ons almal wil betrek. Saam kan ons die park weer herstel en tot sy volle potensiaal ontgin."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'