HESSEQUA NUUS - Politiekery met 'n verdoemende agenda om stemme vir 'n nuutgestigde politieke party, die Eden United People's Party (EUPP) te werf, kon nie deur die party se president, Adwin Saayman ontken word nie.
Saayman het Maandag, 4 Januarie foto's aan die media verskaf waar hy glo tydens die feesseisoen 'n informele woongebied, Dollar Square in Heidelberg besoek het.
Hy het waarnemings dat die inwoners nie water vir huishoudelike gebruik het nie as rede vir die vergadering voorgehou.
Saayman het foto's van 'n toilet waar 'n tuinslang aan gekoppel is, asook 'n foto van die kwansuise vergadering wat hy met die gemeenskap gehou het, as 'bewyse' aan die media vir publikasie verskaf.
Suid-Kaap Forum het die bewerings ondersoek, maar gou besef iets is nie pluis nie.
Dit was spesifiek die foto van die sogenaamde vergadering wat die bron van onraad was. Van die motors en mense op die foto was ten tye van die beweerde tekort aan munisipale dienslewering en Saayman se beweerde besoek nie binne die Hessequa-streek nie.
Die munisipaliteit het by navraag ook bevestig die groepfoto is beslis nie gedurende die inperkingstydperk geneem nie.
Vraagtekens oor die nakoming van vlak 3 inperkingregulasies het die foto se vertrouenswaardigheid in twyfel getrek. Nie een van die mense op die foto het maskers gedra nie en van sosiale afstand was daar ook geen sprake nie.
Toe die munisipaliteit bevestig hulle het nie vir Saayman toestemming gegee om so vergadering binne vlak 3 van inperking te hou nie, het Suid-Kaap Forum Saayman hieroor gepols.
Hy het erken die foto's is reeds begin 2020 voor die pandemie geneem. Dit het gou geblyk dat Saayman se politiese agenda agter die verspreiding van vals inligting kon wees.
Op 'n stelling dat hy die foto's en inligting vir die EUPP se politiekery wou gebruik, kon hy slegs antwoord, "ek is darem bly om te sien die munisipaliteit het intussen toegesien dat water na die huise aangelê word." Hy is gevra om die bewering te ontken as dit onwaar was, maar het nie.
Saayman het bloot afgesluit deur te sê, "as julle dan nie my inligting en foto's wil publiseer nie, sal ek dit op sosiale media doen."
• Met die munisipale verkiesings om die draai en politici hard besig om beloftes te herhaal, moet eerder nie vir die media lieg nie, want jy gaan uitgevang word en Langenhoven het gesê: "Berou is 'n ewigdurende rente op 'n skuld waarvan die kapitaal nooit vereffen kan word nie." Christo Vermaak
Die foto van 'n gemeenskapsvergadering wat 'n politieke leier se versteekste agenda ontbloot het.
Een van die foto's wat Adwin Saayman wou publiseer onder 'n versteekte agenda.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'