STILBAAI NUUS - Die plaaslike sakekamer wil besighede erken wat die afgelope jaar 'n beduidende impak op die gemeenskap gehad het deur middel van innoverende en volhoubare besigheidspraktyke en leierskap.
Die gemeenskap kon besighede nomineer en wel in kategorieë wat ingesluit het kleinsake besigheid van die jaar vir besighede met 'n maksimum van 10 personeellede; jong entrepreneur van die jaar; familiebesigheid van die jaar; maatskappy van die jaar vir maatskappye met meer as 10 personeellede en organisasie sonder winsoogmerk van die jaar.
'n Onafhanklike keuringskomitee, wat bestaan uit nie-sake-eienaars, is aangestel om die keuringsproses objektief waar te neem.
Nominasies het op 15 Februarie gesluit en die wenners sal by 'n glansgeleentheid op 2 Maart in die gemeenskapsaal aangekondig word.
Brand Pretorius, afgetrede uitvoerende hoof van die McCarthy Groep en die skrywer van In the Driving Seat, sal die gassprekers by die geleentheid wees.
Kaartjies vir die gala-aand sluit 'n driegang-aansitete, asook dans in en is beskikbaar by Allegaartjie en Fynbos Apteek op Stilbaai.
ARTIKEL: ELZA THIART-BOTES, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'