RIVERSDAL NUUS - Ontstoke inwoners van Enkanini informele nedersetting in Kwanokuthula het aangedring om die speaker van Hessequa-munisipaliteit te spreek.
Die inwoners het 'n dringende vergadering met die speaker, Andrew Stroebel, op Donderdag 1 Februarie versoek omdat hul elektrisiteit sonder enige kennisgewing deur die munisipaliteit afgesny is.
Volgens een van die inwoners het die speaker en Hessequa-burgemeester, Grant Riddles, wat later by die vergadering aangesluit het, nie antwoorde op hul versoeke gehad nie.
Hulle was toe genoodsaak om die munisipale bestuurder, Johan Jacobs, in te roep wat gesê het dat amptenare uitgestuur sal word om 'n opname te maak van al die strukture wat sonder elektrisiteit is en sal direk met wykskomiteelid, Mzamo Macewan, gekommunikeer word.
Kommentaar deur Hessequa-munisipaliteit
Onwettige elektriese verbindings en die herverspreiding van elektrisiteit is lewensgevaarlik, veral vir kinders wat kaalvoet in die woonbuurt speel en die gevaar staan om geskok te word.
Onwettige en onbeskermde kragkabels wat deur die inwoners self aangebring is, het die munisipaliteit genoodsaak om in te tree. 'n Inwoner het reeds een van die kabels raakgespit.
Enkanini informele nedersetting, (ook bekend as Thembanistraat nooderwe) het ontstaan as gevolg van onwettige oprigting van strukture deur inwoners. Die munisipaliteit het die area as 'noodgebied' erken.
Daar is ongelukkig onwettige kragaansluitings deur van die inwoners gemaak, wat lewensgevaarlik is.
Die munisipaliteit is besig met die proses om die area te formaliseer, maar behuising sal nie daar gelewer kan word ten koste van ander persone wat reeds op die waglys is nie.
Kommentaar deur die African National Congress
Elias Dayimani, ANC-hoofsweep en wyksraadslid vir wyk sewe sê: "Ons as ANC betreur die swak dienslewering en behandeling wat ons mense ontvang vanaf die DA/VF+ koalisie in die raad. Ons mense leef in haglike omstandighede.
"Die munisipaliteit stel geensins belang om die mense se lewensomstandighede te verbeter nie.
As die ANC sal ons altyd ons mense ondersteun en help om hul lewensomstandighede te verbeter."
Kommentaar deur die Demokratiese Alliansie (DA)
Die speaker en uitvoerende burgemeester het onmiddellik hul dagboeke aangepas om die inwoners dadelik aan die woord te stel.
Die ANC se stelling: 'swak dienslewering en behandeling wat ons mense ontvang betreur' word ten sterkste verwerp, juis omdat vele inwoners die uitstekende-bestuurde munisipaliteit op gereelde basis bedank vir die hoë gehalte dienslewering en omgee vir almal.
Wat vir die DA kommerwekkend is, is die feit dat tydens die jaarlikse munisipale begrotingsbosberaad het die speaker, nie die ANC-wyksraadslid nie, die begrotingsinset vir Enkanini se toekomstige elektrisiteit aansluiting vir die 2018/2019 boekjaar gemaak en dryf dit steeds sterk.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'