HESSEQUA NUUS - "Die skoknuus van Jessie se dood Maandag, het my heeltemal onkant gevang. Toe ek nog Sondag by haar was, was alles in die haak met haar," vertel Shanine O' Connel, ondervoorsitter van CARS.
Sy het die afgelope paar weke tydig en ontydig by Jessie gaan inloer om haar vordering dop te hou.
"Met ons eerste besoek het ons 'n hond in 'n baie swak toestand gekry wat nie eens uit haar hok kon opstaan nie. Na so twee, drie dae se kos kon sy al opstaan hoewel sy maar wankelrig op haar bene was.
"En toe na 'n week, as ek daar gestop het om haar te besoek en kos te bring, het sy van blydskap geblaf en gehuil. Ná twee weke het sy my toegelaat om haar te vryf al was sy knorrig teenoor vreemdelinge.
"En ná drie weke se kos was sy elke keer bly om my te sien. Selfs Sondag nog, 'n dag voor haar dood, het haar hele agterlyfie geswaai soos sy haar stert wou waai.
"Maar dit bly hartverskeurend om te dink als is okay en dan gaan die hond net dood. Ná agt jaar se blootstelling bly dit nog steeds vir my baie traumaties en tjank ek nog elke keer."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’