Die bome is goedgunstiglik geskenk deur die Hessequa munisipaliteit se departement van beplanning en omgewingsake en is aangekoop by 'n plaaslike kwekery.
Die bome is op 4 Junie deur munisipale werkers en lede van die Riversdal Greenfingers Tuinbouklub geplant nadat die groot taak aangepak is om 39 gate te grawe. Omdat die grond maar hard is hierdie tyd van die jaar is daar gou besef dat dit 'n groot taak gaan wees en het raadslid Andrew Stroebel vinnig aangebied om 'n grawer te organiseer om die taak te vergemaklik. Piet Stroebel was ook byderhand om sy kennis toe te pas met die aanplanting van die bome.
Gewaardeerde manlike lede van die Greenfingers Tuinbouklub, Kobus Victor en Retief Vosloo, het saam met Willem Roodman (omgewingsoffisier, Hessequa) en sy span die bome aangeplant met die nodige kompos en beenmeel waarna die dames gesorg het dat die area netjies daarna uitsien na die plantery.
Die CoastCare span het intussen ingespring om die area by Jurisch Park op te knap. Dit vorm deel van die poging om die park weer netjies te maak. Sal Carter, op krukke na 'n knievervanging het ook meegdoen deur morele ondersteuning te verleen. Riversdal is beslis besig om stadig maar seker 'n gedaante verwisseling te ondergaan onder die gewillige hande van Riversdallers wat reeds ingekoop het in dié opwindende projek.
Doelwitte van projek:
Die doelwit van die projek is om aan te sluit by die munisipaliteit se groen visie en te fokus op herwinning deur programme by skole te loods en die gemeenskap meer bewus te maak van herwinning. Die aanplant van bome is een van die grootste doelwitte en is plekke geïdentifiseer waar bome geplant moet word.
Die Greenfingers Tuinbouklub het aangeneem om betrokke te wees by die fisiese aanplant van die bome, om seker te maak dat geen bestaande munisipale dienste nadelig geraak word nie en dat bome ook gereeld water gegee word, alles in samewerking met die Hessequa munisipaliteit. Daar is ook besluit om 'n "steggie bank" te bedryf waar steggies versamel, water gegee en aan die publiek beskikbaar gestel word.
Daar sal ook in gesprek getree word met die privaatsektor oor die verfraaiing van die hulle tuine/parkeerareas of stoepe deur potte te plaas en plante/struike aan te beveel. Voorbeelde wat genoem is sluit in Riversdal Spar, Kerkstraat vanaf Hoofstraat tot by Die Handelshuis, ABSA tot by die aptreek in Dicksonstraat.
Die inisiatief sluit ook openbare geboue in soos die Burgersentrum, beplanningskantore, Thusons Veeldoelige sentrum, Ambulanskantore, Brandweerstasie, elektrisiteitsafdeling, Hospitaal, Poskantoor, Polisiekantoor, Landdroskantoor, Riverville stadion, stortingsterreine, CapeNature, De Mist swembad, Heide biblioteek en speelterrein, Takkieskloof, muurbal en netbalbane. Die verfraaiing van strate is ook belangrik en strate en sypaadjies soos plaveisel, straatmeublement (vullisdromme, bankies, ensovoorts), straatnaamborde, kennisge-wingsborde en vlae. Voorbeelde sluit in die verkeerseieland in die Hoofstraat.
Aksieplanne:
Aksieplanne is met die samewerking van die Hessequa munisipaliteit geïdentifiseer en behels die hoofingang van die dorp, Jurisch Park en drie ander hoeke van die kruising. Vetterivierrylaan na die gholfbaan, Ladismithweg tot by Hoër Landbouskool Oakdale en Heidelbergweg se spooroorgang na die sakekern, veral die draadheining.

Kobus Victor, Andrew Stroebel, Annetjie Joubert, Retief Vosloo en Anna Vosloo, plant een van die bome.