TUINROETE NUUS - Groot verwarring ontstaan onder inwoners en lesers nadat Eden-distrik se naam onlangs na Garden Route verander het.
Die koerant het by die Hessequa-munisipaliteit navraag gedoen wat ons na Herman Pieters, senior kommunikasiebeampte van Garden Route-distriksmunisipaliteit verwys het. Volgens hom sal slegs in Engels na die distrik verwys word en is daar nie 'n Xhosa-naam vir Garden Route nie.
Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, het die naamsverandering amptelik op Vrydag 24 Augustus goedgekeur. Met 'n nuwe naam kom daar ook 'n nuwe embleem. Elemente van die nuwe embleem sluit die koningsprotea, die Outeniquaberg, die volstruis en die see in. Die koningsprotea is Suid-Afrika se nasionale blom en is inheems aan die Wes-Kaap.
Outeniquaberg is ingesluit om die verband tussen munisipale gebiede aan weerskante van die berge uit te beeld. Die berg skei die noordelike en suidelike dele van die Tuinroete af, maar dit kan ook as 'n koppeling van die welige suidelike deel met die droë noordelike deel van die streek gesien word.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'