HEIDELBERG NEWS - Heidelberg-polisie, in 'n gesamentlike operasie met die Valke en honde-eenheid, het op die vooraand van Oujaarsdag 'n groot slag geslaan toe hulle 'n 52-jarige man met 'n groot aantal dwelms aangekeer het.
Die man, wat met 'n wit VW Transporter om ongeveer 20:30 op 30 Desember in die rigting van die Kaap onderweg was, is op die N2 net buite die dorp in hegtenis geneem na die lede op 100 000 mandraxpille in 'n versteekte paneel van die voertuig afgekom het.
Die geskatte waarde daarvan beloop ongeveer R4,5miljoen.
Die verdagte sal Maandag, 3 Januarie in Heidelberg-landdroshof op aanklag van handel met dwelms verskyn.
Die drie lede van Heidelberg-polisie se C-skof was saam met hul skofbevelvoerder, ao Jaco Louwrens tydens die operasie. Van links is sers Vuyo Vryman, konst Keeno Fredericks en konst PJ Gordon. Louwrens was afwesig tydens die neem van die foto.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'