HEIDELBERG NUUS - Die Valke se Suid-Afrikaanse narkotika-handhawingsburo het saam met misdaadintelligensie, Hermanus se blitspatrollie en honde-eenheid, asook lede van Heidelberg-polisie se C-skof op die vooraand van Oujaarsdag 'n groot slag geslaan toe hulle 'n 52-jarige man met 'n groot aantal dwelms aangekeer het.
Die man, wat om ongeveer 20:30 op 30 Desember met 'n wit VW Transporter in die rigting van die Kaap onderweg was, is op die N2 net buite die dorp in hegtenis geneem.
Beslag is op 100 000 mandrax-tablette, in 100 pakkies verpak wat in 'n versteekte paneel van die voertuig opgespoor is, asook op die voertuig vir verdere ondersoek gelê. Die geskatte waarde van die dwelms beloop ongeveer R4,5miljoen.
Die verdagte het Maandag, 3 Januarie in Heidelberg-landdroshof verskyn op 'n klag van handel in dwelms. Hy is borgtog van R50 000 toegestaan. Die saak is tot 7 Maart uitgestel.
Die optrede het gevolg op inligting oor twee voertuie, 'n Mercedes en die Transporter wat met dwelms op die N2-snelweg van Gauteng na Kaapstad onderweg was. Die Mercedes is op die N2-hoofweg in Grabouw afgetrek en 24 pakkies mandrax-tablette van altesaam 24 000 kapsules ter waarde van ongeveer R840 000 is in 'n vals kompartement gevind agter die agtersitplek.
'n Vyf-en-dertigjarige verdagte is in hegtenis geneem en beslag is op die voertuig en dwelms gelê vir verdere ondersoek.
Die waarnemende provinsiale hoof van die Valke in die Wes-Kaap, brigadier Mushavhaduvha Ramovha het die gesamentlike polisiespan lof toegeswaai vir hul samewerkingspogings.
"Ek wil ook by die gemeenskap pleit om altyd positief op te tree teen verkeerde optrede deur alle misdadigheid by die polisie aan te meld vir ondersoek."
Die honde van die honde-eenheid het dié mandraxpille in 'n versteekte paneel van die trokkie uitgeruik. Foto's: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'