Update Video
RIVERSDAL NUUS EN VIDEO - Droom, 'n sambreelorganisasie wat 'n diens aan die dorpe se bejaardes lewer, bestuur twee tehuise, naamlik Jan Lange en Ou Meule.
Hoewel Suid-Kaap Forum die twee tehuise elke maand besoek om geskenkies uit te deel in bejaardes wat in die maand verjaar, het die koerant agter die skerms gaan kyk hoe Droom funksioneer.
"Op 3 Julie was daar 152 inwoners onder Droom se dak," het Coreen Victor van die organisasie se afdeling maatskaplike dienste gesê. Die bejaardes is tussen 60 en 96 jaar oud, en daar is 96 vroue, 22 mans en 17 egpare (34).
Tehuis Jan Lange in Van den Bergstraat huisves tans 43 inwoners. Diegene wat hier in een van die 47 enkelkamers wil woon, moet selfstandig wees en kan trappe klim.
Tehuis Ou Meule in Kerkstraat, wat tans 109 inwoners huisves, is ook 'n dubbelverdiepinggebou, maar dit is toeganklik vir rolstoele en looprame. Die verblyfopsies in dié tehuis sluit enkel- of dubbelkamers en kamers wat vier pasiënte kan huisves, 24 leefregwoonstelle, 9 huurwoonstelle en een huurhuis in.
Onder sr. Linda Botha, hoofverpleegkundige, se bekwame hand verleen 40 verpleegpersoneel mediese sorg. Jan Lange beskik oor 'n stepdown-afdeling. Agt kamers op die grondvloer is ingerig vir persone wat medium-versorging benodig en waar verpleegpersoneel 24-uur per dag na hulle omsien. Die mediese diens is ook in 'n noodgeval aan die ander inwoners beskikbaar.
Ou Meule dien hoofsaaklik as 'n siekeboeg met voltydse mediese versorging. Dié tehuis het ook 'n klein Alzheimers-afdeling wat vir inwoners gebruik word. Indien 'n bed in Ou Meule beskikbaar is, word 'n respytsorgdiens teen addisionele koste aangebied.
Kyk 'n video hieronder:
Inwoners moet hul eie meubels en toerusting, soos 'n televisiestel, verwarmer of waaier, klere, beddegoed en handdoeke verskaf. Al die inwoners kry drie maaltye per dag. Die kamers word skoongemaak en wasgoed word gewas. Al die kamers het 'n wasbak, maar daar is gesamentlike bad-, stort- en toiletgeriewe. Daar is hospitaalbeddens beskikbaar indien die inwoner se gesondheid dit vereis.
Die inwoners of hul naasbestaandes is verantwoordelik vir die fooie. As 'n pasiënt 'n staatstoelaag ontvang, moet naasbestaandes dit, indien nodig, aanvul.
Volgens Chris Veldsman, die bestuurder, is die inwoners deel van die gemeenskap. "Ons wil graag hê die gemeenskap moet betrokke wees by ons aktiwiteite. Buiten werk skep, ondersteun die tehuise en die inwoners die dorp se ekonomie."
Veldsman word bygestaan deur Leon Fourie, voorsitter, en Dirk Jooste, finansiële voorsitter. Buiten Victor en Botha, is Elize Muller die menslike hulpbronbestuurder en Melody Veldsman die finansiële beampte.
Droom se bestuur is van links: Linda Botha, Melody Veldsman, Chris Veldsman, Coreen Victor en Elize Muller. Foto: Tisha Steyn
Lees 'n vorige artikel hier: Droom, 'n holte vir jou voet
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus