Update
RIVERSDAL NUUS - Die droogte en die uitwerking van bek-en-klouseer in die res van die land het ook Wes-Kaapse boere in die knyp.
"In sekere dele is die veekuddes halveer as gevolg van die droogte en slagtings by abattoirs is 30% minder,"
sê Louis Wessels, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) in die Wes-Kaap.
Die sosiaal-maatskaplike invloed hiervan is ernstig.
"As ons enigsins wil dink aan vleisuitvoere moet ons volhoubaar kan produseer, wat nie op die oomblik moontlik is nie. Tot dusver het boere probeer vasbyt, maar indien die situasie veel langer voortduur, kan dit lei tot sosiaal-maatskaplike probleme indien aflegging van plaaswerkers onafwendbaar is."
Wessels, wat buite die dorp boer, het op 14 Augustus die Wes-Kaap premier en ministers by Goudini toegespreek.
"Ons is dankbaar vir wat Wes-Kaap-landboudepartement reeds tydens die droogte vir ons gedoen het. Ons doen 'n beroep op die regering om, indien daar enige geld beskikbaar is, dit aan te wend in droogtegeteisterde gebiede."
Buiten die droogte, bly veediefstal 'n probleem. "Ons is dankbaar vir die goeie werk wat die veediefstaleenhede in ons provinsie doen," het hy gesê.
Bek-en-klouseer wat vroeër vanjaar in die Vhembe-streek van Limpopo uitgebreek het, se invloed word ook gevoel. "Die Wes-Kaap produseer tussen 5 en 6,5 miljoen kilogram wol," sê Wessels. "Die totale waarde hiervan wissel tussen R700- en R750 miljoen. Wolproduksie in die 2018/19-seisoen is met 17% af."
Die eerste twee wolveilings van die jaar is gekanselleer weens onsekerheid oor uitvoere na China. "Dit is 'n groot terugslag vir die boere, aangesien hulle reeds onder groot finansiële druk is." Volgens Wessels lê daar ongeveer R800 miljoen se wol in store. "Kopers se geld is op. Wol moet eers verskeep word sodat kopers weer kontant kan hê om wol te koop."
Volgens hom het navorsing deur die nasionale landboube-markingsraad aangedui dat die sektor verliese van meer as R6 miljard per jaar gely het omdat die uitbreking daartoe gelei het dat die uitvoer van rooivleis en -produkte, velle, wol en sybokhaar, suiwel, genetiese materiaal en wildprodukte oornag opgeskort is.
"Die invloed op die provinsie en land se ekonomie en gepaardgaande werksverliese is ernstig en baie hoër as wat die koste van voorkoming ooit sou gewees het."
Uitvoere van wol is onderhewig aan 'n kwarantynperiode van tussen agt dae en vier maande, afhangend van die temperatuur waarteen die wol gestoor word.
IN SHORT
The ongoing drought and the effect of foot and mouth disease in other provinces, have had a devastating effect on Western Cape Farmers. Their livestock numbers were halved, and due to export restrictions on animal products to China, they are not allowed to export wool.
Lees 'n vorige artikel hier: Droogte en verbod op woluitvoere knou boere
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'