RIVERSDAL NUUS - Magdeleen Draai, verpleegbestuurder van Riversdal Hospitaal is op Dinsdag 18 Julie skielik oorlede. Haar kollegas het met Suid-Kaap Forum gesels oor die mens wie sy was en die leemte wat sy laat.
Sr Heidi Baker: Matrone Magda Draai was 'n pragtige en opregte mens met diep gesetelde wortels in haar Hemelse Vader. Sy het ten alle tye 'n omgee hart openbaar teenoor almal en in besonder haar personeel.
Haar vriendelikheid en oop glimlag was aansteeklik. Sy was 'n perfeksionis in haar werk en het haar groot taak met passie en deursettingsvermoë aangepak. Sy was besonders hardwerkend en het nooit teruggestaan vir enige taak nie.
Sr Draai het in 1985 haar verpleegloopbaan by Riversdal Hospitaal begin waar sy as stafverpleegster gewerk het tot 1996. In 1997 is sy na professionele verpleegsuster bevorder en het hierdie pos beklee tot 2006. Vanaf 2007 tot 2010 het sy as Gevalle Bestuurder gewerk, waarna sy vanaf 2010 tot 2014 as Operasionele Bestuurder (algemeen) aangestel was.
Sy word op 1 November 2015 aangestel in die pos van matrone en beklee hierdie pos met uitnemendheid. Haar hartsbehoefte was om Riversdal Hospitaal te ontwikkel tot 'n instansie van uitnemendheid en om die gemeenskap te dien.
Sy gaan voorwaar gemis word…
In 'n kort tydjie het ek baie by haar geleer, maar ek wou nog so baie geleer het. Sy was streng, maar regverdig in haar optrede. Jy gaan gemis word, my vriendin, kollega en mentor.
D Pretorius: "Magdaleen Draai, 'n baie sterk vrou; leiding geneem en 'n perfeksionis. Sy het haar alles gegee en haar medemens in alle opsigte gehelp in haar kapasiteit en was sy spontaan en opreg. Dit was goed om iemand soos sy te kon ken en van te leer - 'n mentor, onderwyser, advokaat en dies meer. Dankie vir die tye saam met jou by Riversdal Hospitaal."
Colette: "Ons kon vir ure staaljies uit ons kinderjare deel. Soms met trane van hartseer, soms met trane van genot. Magda was haar lewe lank 'n steunpilaar nie net vir haar ma (na haar pa se dood), broers, susters en familie, maar vir elkeen wie se lewe sy aangeraak het. Op die oog af as jy haar nie geken het nie sou jou eerste denke wees – ligloop. Inteendeel was sy een groot bondel vreugde, liefde en plesier om in jou lewe te kon hê. Wat my altyd sal bybly van jou, vriendin, is: Aanhouer wen, wat jy begin, maak jy klaar! Ek hoor haar nog sê 'my ma het ons geleer om nooit tou op te gooi nie'. Die 'afdak' sal nooit weer dieselfde wees. Mis jou oneindig baie."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'