STILBAAI NUUS - Nadat die NG Kerk in Stilbaai se kerktoring onveilig verklaar is in 2016 is die toring gesloop.
Die toring horlosie wat in al vier windrigtings die tyd aangedui het was al so vasgeroes dat die kontrakteurs dit noodgedwonge moes uitkap.
In 2023 is die horlosie, met sy meganismes, aan die Stilbaai Bewaringstrust oorhandig en Dr Deon Begeman, voorsitter van die Bewaringstrust, het besluit om dit te restoureer.
Hy het in November 2023 begin en moes eers al die stukke skoonmaak en plek-plek die roes verwyder.
Die wysers was so beskadig dat hy dit moes vervang en na maande se harde werk pronk die gerestoureerde horlosie nou in die museum by Palinggat in Stilbaai.
Die horlosie, wat 180 kilogram weeg is oorspronklik in 1965 vervaardig in die Toringuurwerk fabriek, "De Klok" in die dorp Aarle-Rixtel in Nederland waarna dit verskeep is na Suid-Afrika.
Hy is toe in die NG Kerk in Stilbaai, wat op 25 Junie 1966 ingewy is, geïnstalleer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’