RIVERSDAL NUUS - Klein sakeondernemings in die dorp trek beslis voordeel uit sportfeeste soos die Hoër Landbouskool Oakdale se jaarlikse Akkerfees.
Na aanleiding van kommentaar op sosiale media dat die feeste nie voordeel inhou vir kleinsakeondernemings nie, het Suid-Kaap Forum verskeie besigheidslui genader om te hoor hoe hulle daaroor voel.
Die Akkerfees, wat vanjaar saamgeval het met die interskole-sportdag, het duisende besoekers wat ouers, oudleerders en inwoners insluit, na die dorp van die Slapende Skoonheid gelok.
"Ons was nege maande voor die Akkerfees vol bespreek vir die Vrydagaand," het Christopher Peppas, algemene bestuurder en sjef van De Doornkraal Vinotel gesê. "Ek moes navrae na verblyfplekke op Heidelberg en Stilbaai verwys."
Volgens Wessie Wessels was sy vrou Merinda se Fynbos-gastehuis ook volbespreek.
"Die meeste gaste wat by die Kweekkraal-gastehuis oorgebly het, was oudleerders wat in 2009 hier reünie gehou het, maar daar was ook ouers wat hier oornag het," het Rona Coetzee van dié gastehuis buite die dorp gesê.
Die eienaar van die Nostalgia-gastehuis, Esmé van Wyk reken die sakegemeenskap sal baie baat vind by 'n sentrale dorpskalender wat aan die begin van die jaar beskikbaar gestel kan word sodat vooruit beplan kan word vir besige naweke.
Fanie le Roux van Rusticana en Suzette van der Vyver van La Lani moes ook talle mense wegwys. Hulle reken hulle het definitief meer navrae as gewoonlik ontvang.
Sakeondernemings is tevrede met die besigheid wat die geleentheid vir hulle gebring het.
"Die dorp trek beslis voordeel uit die sport- en ander dae wat nie net deur Oakdale nie, maar ook al die ander skole aangebied word," het André van Wyk, eienaar van Riversdal Superspar gesê.
Die ouers en besoekers wat sportdae bywoon, bly in ons gastehuise en hotelle en eet in ons restaurante. Dit kring ook verder uit, want ouers van kinders wat elders op skool is, besluit na 'n besoek om dalk hulle kinders hier in die skool te sit."
Volgens Jacques Oberholzer, bestuurder van Pick n Pay, was daar 'n beduidende toename in klante tydens die Akkerfees. "Veral voor en na verrigtinge op die skoolterrein kon ons sien hoe mense instroom om inkopies te doen."
Henk Lourens van Riversdal Toyota meen die dorp lok duisende besoekers wat miljoene rande in die dorp bestee. "Elke leerder se ouers en die besoekers bestee geld in die dorp, hetsy vir brandstof, kos, verblyf of goedere. Die inkomste wat hulle vir die dorp bring is te ingewikkeld om te bereken, maar dit is beslis 'n enorme bedrag."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'