HEIDELBERG NUUS - Die eerste domino-wedstryde van die seisoen het Sondag 15 Maart by De Waalville Primêr plaasgevind.
"Die Hessequa-dominoklub Western Flyers van Slangrivier, 2019 se kampioene, het hul teen die begeesterde Nietverloren-span van Albertinia vasgeloop," het Vaatjie Adams gesê.
Nietverloren het Western Flyers met 57-54 geklop. Nietverloren het vroeg in die wedstryd met 28-5 voorgeloop, maar kop verloor en Western Flyers kans gegee om hulle in te haal. Western Flyers het later met 54-51 voorgeloop, maar nie rekening gehou met Coenrad (Die Draak) Jantjies en Abel (Kaptein) Kortjé nie, want dié twee het Nietverloren deurgedra. Pieter September en Johannes Carelse is as spelers van die wedstryd aangewys. In die ander wedstryd het Young Stars vir Starlite met 54-41 geklop. Die spelers van dié wedstryd was Deon Hopp en Ammy Abrahams.
Klipdrifhoogte het 'n loslootjie gehad.
Hessequa-dominovereniging se bestuur vir 2020 is voor die aanvang van die wedstryde gekies. Hulle is Jan Hartnick (voorsitter), Kevin Williams (ondervoorsitter), Leana Esau (sekretaris), Johannes Carelse (kassier), Katy Longwe (wedstrydsekretaris), met Coenrad Jantjies, Jenni-Lee Abrahams en Patrick van Rensburg as addisionele lede.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'