STILBAAI NUUS - Dié dorp is een van drie in die Wes-Kaap wat na die volgende ronde van kykNET-Kwêla se Dorp van die Jaar-toekennings deurgedring het.
Die dorpe wat deur inwoners genomineer word, word aan die hand van verskillende kriteria gemeet. Elza Thiart-Botes, 'n inwoner wat met die filmspan van kykNET en Kwêla gesels het, vertel meer oor wat dalk die knoop vir Stilbaai kan deurhaak.
"Hier leef 'n mens nog naby die natuur – die bokkies en ander diere loop nog saans in jou tuin rond."
Inwoners en besoekers stap graag langs die talle wandelroetes om die unieke plantegroei en voëllewe te verken. "Die Tuin-op-die-Brak is 'n botanies korrekte fynbostuin met sowat 280 plantspesies. Die labirint en buitelug-gimnasium is ook gewild. As 'n mens wil, kan jy van Jongensfontein tot by Stilbaai stap. Die Blombos-staproete is taai, maar 'n mens hoef nie die hele 16 km te stap nie."
Die dorp spog ook met twee blouvlag-strande, Lappiesbaai en Preekstoel. "'n Mens kan ver en veilig langs die strande stap. Daar is ook 'n groot verskeidenheid watersport waaraan jy kan deelneem, maak nie saak wat die weerstoestande is nie." Dit sluit swem, dobber op die rivier, branderplankry, roei en sweefski in.
'n Paar misdaad-voorvalle het die laaste tyd die gemeenskap geskok, maar eintlik is die misdaadsyfer laag. "Die inwoners gee om vir mekaar en ondersteun die onderskeie liefdadigheidsaksies."
Dit is ook 'n ware gesinsdorp. "Baie van die besoekers vertel hul familie kom al geslagte lank hier vakansie hou. Dis nou 'n dorp waar 'n mens regtig kan ontspan. Hier bring gesinne kwaliteittyd saam met mekaar deur, want hier is nie groot winkelsentrums nie."
Volgens Thiart-Botes was die filmspan ook geïnteresseerd in die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se werksaamhede, die hengelaars en toerisme-ontwikkelings, wat onder meer Inverroche en Kasselshoop ingesluit het.
Inwoners het per SMS vir hul dorp gestem. Bredasdorp en Worcester is die ander Wes-Kaap-finaliste. Die Wes-Kaap se wenner word op 31 Maart bekend gemaak.
"Al nege streke se finaliste word een-een op 'n Sondagaand bekend gemaak totdat almal aangekondig is, en dan word weer gestem om te sien wie uiteindelik die kroon as Dorp van die Jaar gaan dra."
Die kameraspan meet hul kragte in die buitelug-gimnasium op die strand. Foto: Elza Thiart-Botes
Die filmspan kiek die jong hengelaars op die kaai. Foto: Elza Thiart-Botes
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'