STILBAAI NUUS - Halfpad bestaan nie in Gustav Radloff se woordeskat nie.
Of dit nou werk of speel is, dis voet in die hoek en 'doen dinge ordentlik of los dit'. Die enigste aktiwiteit waaroor hy nie heeltemal so entoesiasties is nie, is volgens sy vrou Lili tuinmaak: "Hy is nou nie juis die tipiese afgetrede Stilbaaier wat loop en onkruid uittrek nie..."
Radloff word vanjaar 78, maar hy toon geen tekens van stadiger leef nie. Die voorsitterskap van Stilbaai Belangeforum hou hom goed besig en met sy passie vir bewaring was hy tot onlangs 'n bestuurslid van die Bewaringstrust.
Hy is in Bloemfontein gebore, waar die gesin net 'n rukkie gewoon het voor hulle Oos-Kaap toe verhuis het. Op 16-jarige ouderdom het die Radloffs Pretoria toe getrek en hy het matriek aan Afrikaans Hoër Seunskool voltooi. Regsopleiding by die Universiteit van Pretoria het gevolg.
Hy het in 2011 na 'n suksesvolle en vol loopbaan waartydens hy hom merendeels op eiendomsontwikkeling toegespits het, afgetree. Hy was onder meer lid van die akteregistrasieraad en is meer as een keer as eiendomsprokureur van die jaar aangewys. Etiek as vakgebied lê hom ook na aan die hart.
In Oktober 2019 het die Pretoria Prokureursvereniging hom met 'n toekenning vir sy jarelange bydrae tot die regte vereer.
Een ding wat sy regsloopbaan hom geleer het, is dat die mens nog nie uit sy foute leer nie. Hy sien egter 'n wêreld ontvou waar dinge na sy mening steeds beter word en hy voel bemoedig deur jong mense se terugkeer na morele oortuigings: "Kennis sonder 'n waardesisteem is een van die gevaarlikste goed wat bestaan."
Op die vraag ten opsigte van sy musieksmaak antwoord Radloff met 'n baie besliste voorkeur vir klassiek. Hy spog met volledige stelle van komponiste soos Bach, Beethoven en Mozart se musiek op laserskyf.
Jy kan bykans nie jou vinger op 'n plek in die Radloff-woning druk waar nie 'n boek lê nie. Om die vraag of hy 'n liefhebber van visuele kuns is te beantwoord, haal hy een na die ander boek uit die rakke met afdrukke van manjifieke kunswerke. Hul een skoonseun is immers self 'n skilder van formaat.
Hy is ook 'n kranige kajakker en kanovaarder en het vir ses jaar die Suid-Afrikaanse meesterskampioentitel gehou.
Die egpaar is 54 jaar getroud en vier kinders is uit die huwelik gebore. Hulle is ook grootouers van vyf kleinkinders, van wie die oudste in matriek en die jongste vyf jaar oud is.
Hy reken die wêreld het baie meer omgee nodig as wat daar oor die algemeen is: "Stilbaai se gemeenskap is nog een waar mense gee sonder om teenprestasie te verwag. Dié wat iets kan terugploeg, moet dit doen." En dis inderdaad wat hy doen, onvermoeid.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'