RIVERSDAL NUUS - Die gemeenskap se fokus is weer eens op die beskerming van kinders op 'n baie kreatiewe manier vanaf 28 Mei tot 4 Junie deur Riversdal Kindersorg SA, in samewerking met die plaaslike brandweer geplaas.
Magda Kamfer, maatskaplike hulpwerker van die plaaslike kindersorg het besluit om 'n kort toneelspel te skryf waar die Disney-karakters, Goue Lokkies, Die Drie Varkies, Beer, Wolf en Rooi Kappie die verskillende euwels soos boelie, groepsdruk, gesinsgeweld en alkoholmisbruik uitgebeeld het.
Dit is by Panorama Primêre Skool, Bollie Konyn Kleuterskool, Hoërskool Langenhoven, Vrolike Vlinders speelskool, Die Speelgoedkis-speelgroep, Volschenk OLSO-klas, Feetjieland, Gerrit du Plessis Sekondêre Skool en Voorwaarts Primêre Skool opgevoer.
Die maatskaplike hulpwerker student, Monique Selela, gemeenskapsontwik-kelingsstudente Jawardene Elias en Sonja-Maree Pieterse het verder op Donderdag die gemeenskap van Môrestond en Beverly Hills bereik waar hulle groen lintjies met kaartjies uitgedeel het wat verduidelik waarom 'n groen lintjie gedurende kinderbeskermingsweek gedra word.
Die gemeenskap is ook met lekkergoed, 'n groen Fizzer bederf. Laasgenoemde was Hoërskool Langenhoven se bydrae ten opsigte van Kinderbeskermingsweek.
Vrydag was Kwanokuthula bereik waar die studente en personeel inligtingstukke uitgedeel het.
"Kindersorg SA Riversdal bedank al die skole wat by die Kinderbeskermingsweek betrokke was, die gemeenskap, brandweer, me Kriek wat die kostuums vir ons gegee het en Constance Louwrence vir die kontantskenking wat sy aan die organisasie gemaak het vir die personeel se hemde en lekkergoed vir die kinders," het Shahida Filander gesê.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'