Gallery
STILBAAI NUUS - Besoekers by die Stilbaai-fynbosfees het van Vrydag 29 September tot 6 Oktober fynbos in al sy wonderlike fasette beleef.
Die feeskomitee, onder leiding van Willie Delport, voorsitter van Tuin-Op-Die-Brak, het uit hul pad gegaan om topklas kenners te betrek by die praatjies en demonstrasies en die herbarium was met elke aanbieding met entoesiastiese feesgangers gepak.
Met die opening Vrydagaand, 29 September, het Willie gesê hulle het met die beplanning van die fees net weer besef hoe uniek fynbos is.
Die Blombosgrot wys byvoorbeeld dat fynbos van die vroegste tye af as medisyne gebruik is. Dit is ongelukkig ook so dat fynbos bedreig word deur ontwikkeling en landbou en daarom is dit uiters belangrik dat alle betrokkenes volhoubaarheid nastreef.
Die voorsitter het Hessequa-munisipaliteit, Hessequa-toerisme, Vondeling Wyne, Indalu-wildreservaat, Na-Omi's Gastehuis, Muir-vakansiewoonstelle en die World Wild Fund for Nature (WWF) bedank vir hul bystand waarsonder die fees nie moontlik sou gewees het nie.
Naomi van Schalkwyk, een van die dryfvere agter Tuin-Op-Die-Brak, sê dat hulle baie hindernisse moes oorkom om die tuin te vat tot in sy huidige formaat. Daar was selfs mense wat hulle hof toe wou vat terwyl ander gesê het dat dit nie gaan werk nie, maar hulle het volhard in die geloof.
Julian en Bridget Johnson van Vondeling Wyne is bewaringskampioene by die WWF en daarom is hulle na die fynbosfees genooi. Hulle is al 33 jaar in Suid-Afrika en is oorspronklik van Brittanje. Vir hulle is bewaring van die natuur van kardinale belang en hul plaas, saam met talle ander, is 'n bewys dat suksesvolle landbou en bewaring van die natuurlike habitat hand aan hand kan loop. Bridget sê dat biodiversiteit tans die gonswoord is en sy is vas oortuig dat groot dinge in die volgende 10 jaar kan gebeur.
Shelly Fuller van die WWF is beïndruk met wat sy hier by Tuin-Op-Die-Brak sien. Sy is ook passievol oor fynbos.
Dr. Jan de Vynck , Naomi van Schalkwyk en Tania Verheem-Louw gesels oor medisinale gebruik van fynbos.
Op pad van die Kaap af ná die stormweer kan duidelik gesien word waar landbouers natuurlike habitat tot op die rivieroewer verwyder het om plek te maak vir wingerd. Daar is baie meer skade as waar die natuurlike habitat vir 'n gedeelte van die rivieroewer af behoue gebly het.
Fuller sê dat dit elkeen se plig is om die natuur te herstel en op te pas en nie te vernietig nie. Natuurliefhebbers moet ander mense help om een te word met die natuur.
Dr. Jan de Vynck en Tania Verheem-Louw het 'n praatjie gelewer met fynbos as medisyne en De Vynck het die verhaal 130 000 jaar gelede in en om die Blombos-grot gaan haal.
Bewyse is daar gevind dat die mense fynbos gebruik het as medisyne en Tania het dit deurgetrek na die huidige. Die Kaapse Fynbos Koninkryk is een groot natuurlike apteek.
Vir drie middagsessies het Giselle Courtney van Wellington die herbarium volgepak gehad met haar fynbos-proedemonstrasies. Giselle het 'n fynbosgeurwiel ontwerp waarin elf eetbare spesies se primêre chemie en die geregte waarvoor dit die beste pasmaats is, bespreek word. Dan was daar geleentheid om daaraan te ruik, die tee wat daarvan gemaak is te proe en ook ander voorbeelde te beleef. Dit is die moeite werd om op die internet te gaan soek vir SouthAfricanFynbos.com
Die Hessequa Herbarium by Tuin-Op-Die-Brak het drie opedagsessies gehou waarin belangstellendes meer te wete gekom het oor die werksaamhede van 'n herbarium en hoe die onderskeie herbariums in die land en wêreld bymekaar inskakel.
Dr. Andor Venter, afgetrede plantkundige, het baie interessante feite oor herbariums gedeel - ook oor die bewaring van plantspesies in herbariums.
Daar is ses blomme koninkryke in die wêreld en die Kaapse Fynbos Koninkryk is een daarvan. Kaapse Flora beslaan 6% van SA se oppervlakte, maar beskik oor 36% van die plantspesies. Driekwart van die spesies op die rooidatalys is in die fynbos biosfeer en dit maak bewaring des te meer belangrik.
Om meer te wete te kom kan jy gerus op 'n Dinsdagoggend tussen 09:00 en 12:00 by die herbarium 'n draai maak en die vriendelike mense sal jou deur al die stappe neem van die suksesvolle bewaring van plantspesies.
FOTOGALERY: Stilbaai-fynbosfees lok feesgangers
Die onderburgemeester van Hessequa-munisipaliteit, Thinus van den Berg, open die Fynbosfees met 'n vonkelwy van Vondeling terwyl Willie Delport toekyk.
Hein Faber se interessante praatjie en bonsaidemonstrasie het voornemende bonsaikwekers goeie agtergrond gegee en hulle is almal daar weg met beginnerstelle. Die sleutel tot sukses is egter geduld en die besef dat daar 'n balans moet wees tussen kuns en hortologie. Jy moet verstaan hoe wortels werk en groei en dan moet jy 'n kunssinnige oog hê.
"Jy moet die antwoord sien in die boom voordat jy aan hom vat."
Diederik Geldenhuys van Riversdal het blommerangskikkings van fynbos opgetower. Hy sê dat hy hou van fynbos uit hulle natuurlike omgewing. Gekweekte blomme lyk te perfek. Diederik het gebruik gemaak van droë takke, bottels en talle ander fynbos wat hy in die veld opgetel het om ongelooflike blominstallasies te skep. Daarna het hy blomme soos proteas en Ericas staan en indruk en as hy dan terugstaan, is dit hierdie ongelooflike toneel wat jou begroet.
Jy moet die Fynbosfees persoonlik in al sy fasette ervaar om werklik te weet wat fynbos is en beteken in die alledaagse lewe en die organiseerders het alreeds die versekering gegee dat volgende jaar se fees groter en beter gaan wees.
Volgens Christina Mars en Naomi van Schalkwyk het hulle baie geleer uit hierdie fees en daar was ook heelwat insette van feesgangers wat hulle beslis in ag gaan neem.
Diederik Geldenhuys se voltooide blominstallasie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’