HESSEQUA NUUS - Depressie, of die 'swart hond' soos Winston Churchill die siekte in 1911 beskryf het, is nie bang vir lockdown nie.
Inteendeel, kenners is dit eens dat depressielyers ekstra voorsorg gedurende inperking moet tref.
Die gewone maniere om emosioneel kop bo water te hou soos byvoorbeeld kuier met vriende of uitstappies en vergaderings bywoon is nie beskikbaar nie en baie mense is aan hul eie geselskap oorgelaat.
Introspeksie saam met negatiewe nuusberigte kan 'n bestaande neiging tot 'n morbiede lewensuitkyk tot 'n volskaalse ineenstorting laat opbou.
Belangrike wenke
- Moenie jouself op sosiale gebied totaal isoleer nie. Meeste mense het gereelde toegang tot platforms soos WhatsApp en Facebook. Indien data dit toelaat, is dit 'n goeie tyd vir Skype-kuiers met geliefdes en vriende.
- Moenie alles wat in Facebook-plasings verkondig word net glo nie. Vra jouself af of iets logies moontlik is en toets dit op ander aanlynbronne, of bel iemand wat meer sal weet en vra.
- Inperking saam met jou gesin kan ook groot spanning veroorsaak soos wat irritasies met mekaar opbou. Skeduleer vir elke lid van die gesin tyd om alleen te wees en hou daarby. Sorg dat kinders eenkant gehou word as dit die beurt is van iemand wat hul moet oppas.
- Slaap genoeg en eet gebalanseerd.
- Doen strekoefeninge om bloedsomloop aan te wakker en te verseker genoeg suurstof bereik die brein.
- As jy 'n terapeut of sielkundige het, bly in kontak.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'