Gallery Update Video
RIVERSDAL NUUS - Johan Badenhorst en sy span se voetspore lê nou ook in Hessequa.
Die spelers in die ware lewe avontuur-verhaal het van 15 tot 17 Augustus die streek besoek as deel van hul heel eerste toer deur Suid-Afrika.
Die toer vanaf Askam in die Kalahari het die span van ses veteraan-avonturiers reeds om die mees suidelike punt van Afrika geneem.
Tans is hulle besig om teen die Wes-Kaapse kuslyn en aangrensende binneland na die Oos-Kaap, vandaar na KwaZulu-Natal, en dan stroomop deur die Limpopovallei te toer.
Vir inwoners van Hessequa wat die span Saterdagoggend 17 Augustus by Riversdal Toyota ontmoet het, was dit soos om ou vriende in die televisiekamer te verwelkom. Die gesigte het gestraal toe hulle kon hand skud met die ses manne wat weekliks vir hulle die wêreld oopbreek.
"Ons kyk elke week na hulle en so hoor 'n mens van plekke wat jy saam met hulle kan beleef," vertel Maxie Hector van Riversdal terwyl Germaine Witbooi aan 'n lekker worsbroodjie hap.
Gerhard van Rensburg van Albertinia: "Ek kyk gereeld na die program en droom om dit self te doen. Dis lekker om ander plekke te sien, al is dit op televisie."
Stefan Sonnekus, rooikop-fotograaf/redigeerder van die span, se rede vir saamreis stem nogal ooreen: "Dis lekker om die geleentheid te hê om ander plekke te sien waar ek andersins nooit uitkom nie." Dis veral vir hom lekker dat die reeks diep spore in al die mense van die land se ervaringswêreld trap. "Die interaksie met die mense is waardevol, want dit is goed om so 'n groot gevolg te hê - dit beteken dat die program sal voortbestaan."
Vir Johan Badenhorst, wat die program in 2000 begin het, bly die reiservaring iets besonders. "Dit was lekker om die onontdekte juwele van Hessequa en die binneland tot by Ladismith te verken. Ons was by CJ Langenhoven se grootwordhuis in die Hoeko-vallei, by Amaliënstein en Zoar. Dis plekke wat op 'n toerismeroete aandag behoort te kry."
Kyk 'n video hieronder:
Norbert Coetzee, Stefan Sonnekus, Gideon Swart, Johan en sy seun Streicher Badenhorst en Simon Wearne. Foto: Tisha Steyn
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'