HESSEQUA NUUS - President Cyril Ramaphosa se aankondiging Sondagaand, 12 Julie dat alkoholverkope met onmiddellike effek weer verbode is, het as baie slegte nuus vir drankhandelaars gekom.
Farren Zhwang, 'n Sjinese sakeman van Heidelberg bedryf al 10 jaar 'n besigheid op die dorp. Zhwang het aan die Suid-Kaap Forum gesê dat die verbod hom onkant betrap het.
"Ek weet nie hoe lank ek die toedrag van sake sal kan dra nie. Ek het twee werknemers en hulle het nog nie eens hul TERS-uitbetalings ontvang nie. Hoe gaan ek hul salaris betaal as die regering nie help uit die werkloosheidsversekeringsfonds nie?" vra hy.
Hy sê hy het by alle regulasies gehou en nooit meer as drie persone op 'n slag in sy winkel gehad nie, maar nou moet almal onder 'n paar onverantwoordelike mense ly.
Carlos Luis-Gomez van Tops Heidelberg sê hoewel die konsessiegroep nog nie amptelik kommentaar uitgereik het nie, was hy ook onvoorbereid op die aankondiging. "Dit gaan 'n baie negatiewe uitwerking op ons almal hê."
André van Wyk, eienaar van Tops op Riversdal sê ook die aankondiging het die bedryf heeltemal onverhoeds gevang. "Ons het geen heads-up gekry nie en dit het as 'n skok gekom. Dis 'n ramp." Hy verwag die verbod sal 'n paar maande lank geld en dit beteken verliese in meer as een opsig. "Ek het voorraad wat gaan verval en wat nie gebruik sal kan word nie. Wynkelders en bierbrouers het pas hul produksievlakke weer gehad tot waar dit moes wees en gaan ook nou op groot skaal produkte moet weggooi."
Van Wyk voorsien moontlike afleggings van werknemers in die nabye toekoms. "Ek het vaste verpligtinge wat ek moet bly dra, terwyl die TERS-betalings einde Junie gestop het. Ek hoop van harte dit sal weer ingestel word met die nuwe regulasies."
Die mede-eienaar van Stilbaai Kelders en die Blou Seekat, Adolf Botes is ook deur die president se aankondiging uitgeboul. "Ek het verwag die besigheidsure gaan weer aangepas word. Ek het regtig nie gedink alles gaan weer heeltemal gesluit word nie," sê hy. Hierdie keer reken hy groot voorraadverliese is sy en die ander eienaar, Johannie Vermeulen se voorland, want hulle het pas die winkelrakke weer volgepak gehad.
Afleggings is vir hom nie 'n opsie nie. "Die mense werk al lank by ons en hulle is ons verantwoordelikheid. Ons sal hulle dra solank ons kan." Hy sien egter ook 'n ligter kant van die saak. "Dis die eerste keer in my hele 35 jaar werkslewe wat ek twee keer in dieselfde jaar langverlof kry!"
Adolf Botes en Johannie Vermeulen
Vorige artikel: Dop se doppie is geklink
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'