STILBAAI NUUS - Dit is geen geheim dat die Covid-19 die land se ekonomie 'n harde slag toegedien het nie. Sakeondernemings, groot en klein het groot finansiële verliese gely, wat nie werklik verhaal kan word nie.
Maar wat is veral kleinsake-ondernemings se siening oor dit wat was, steeds is meer belangrik; die pad vorentoe.
Suid-Kaap Forum het met 'n paar eienaars gaan gesels.
Jacqui Geldenhuys, haarkapper eienaar
Ons het nog nie van ons personeel afbetaal nie, want die wat nie komissiewerkers is nie, het werkloosheidversekeringsgeld (UIF) gekry. Kommissiewerkers, wat myself insluit, kwalifiseer egter nie vir werkloosheidversekering nie omdat ons salarisse te wisselvallig is. Dit beteken dat ons al vir twee maande geen geld verdien nie. Ons is verplig om geld by ons families te leen om kop bo water te kan hou. Wanneer ons eendag kan oopmaak, sal dit in skuld wees.
Ek verstaan dat ons nie die sosiale afstand-ding kan doen nie, maar daar is dinge wat mens in plek kan sit om te voorkom dat iemand in die salon die virus kan opdoen. Ons studeer drie jaar vir dit wat ons doen, met higiëne bo-aan die lys. Daar is werk en ek wil werk, maar ek mag nie. 'n Mens wil positief bly, maar dit is moeilik.
Hoewel ons uitgawes nou meer is omdat ons aankope moet doen vir maskers, screens en alles in plek moet kry om te kan oopmaak, sal ons nie dat ons kliënte vir ons verliese betaal nie. Ons het ons jaarlikse eskulasie wat daar gaan bly. Ons het 'n wonderlike gemeenskap wat ons geweldig ondersteun en kon ons deur donasies ons oorhoofse kostes dek. Stilbaai se mense staan definitief saam. Ons landlord het ons ook met korting op ons huur tegemoetgekom, maar vanaf Junie moet ons weer vol begin betaal en oor ses maande die res terugbetaal - hoe weet ek nie.
Adolf Botes
Adolf Botes, mede-eienaar van drankwinkels
Ek kry die groter besighede eintlik meer jammer as klein besighede omdat hulle op die ou end baie meer verloor, omdat hulle baie meer beperk word met klante wat in die winkel mag gaan. Wat vir my nie gesin gemaak het nie, is wie toe mag wees en wie oop? Hoekom kon tuindienste nie oop wees nie? Die persoon kom met niemand in aanraking nie. Dieselfde geld vir haarkappers, want jy kan 30 mense in 'n winkel toelaat, maar een persoon kan nie sit om hare te sny nie. Die reëls wat hulle ingestel het, is metro reëls waar duisende mense met mekaar in aanraking kom en nie noodwendig vir klein besighede nie. Vir 'n klein dorpie is dit absurd. Hoekom kon ons nie op die strand wees nie?
Dis vir my drakonies dat hulle mense verbied om te rook en te drink, want al wat daarmee bereik word is om vir onwettige handelaars geld in die sak te sit.
Ons het miljoene in omset verloor en daar is geen manier om dit op te maak nie. 'n Verlore transaksie bly 'n verlore transaksie. Ons het ons vasgestelde winsgrense en al wanneer ons pryse opsit, is wanneer ons verskaffers se prys opgaan. Die wynindustrie se pryse gaan gewoonlik op 1 April op en is gewoonlik redelik vas vir 'n jaar.
Wat ons personeel betref het ons niemand afbetaal nie. Ek het vir 31 dae tussen twee tot drie ure met die werkloosheidversekering vir uitbetaling aan ons personeel gespook en uiteindelik reggekom. Intussen het ons hulle betaal. Ons is baie gelukkig in die opsig dat ons landlords van beide ons winkels ons huurgeld met die helfte vir April en Mei verminder het. Ons kon ook reelings vir die betaling van ons voertuie tref, wat 'n groot verpligting is.
Wat my betref, was daar massahisterie geskep. Wanneer mens na die bevolkingsyfer van ongeveer 60 miljoen kyk, die hoeveelheid wat die virus het en hoeveel mense daarvan dood is; ons sit met 'n gemiddeld van 57 mense per dag wat vermoor word. Hoe bring hulle die kloutjie by die oor? Hierdie ding het verreikende wêreldgevolge. Wêreldmarkte het geval en beleggings gaan niks werd wees nie. Baie min mense besef wat eintlik met hul geld gebeur.
Besighede sal innoverend moet begin dink. Ons het met 'n webtuiste begin om aanlyn te verkoop en wag net vir die bank sodat dit gefinaliseer kan word. Ons gaan nie meer die voete hê wat winkels toe kom nie want mense is te bang. Aanlynverkope gaan die in-ding word.
Waldi Haarhoff
Waldi Haarhoff, bouer
Toe die inperking begin het, het ek daarmee saamgestem, veral as mens kyk na wat internasionaal aan die gang was. Ek besef dat daar tyd nodig was veral in terme van voorbereiding met gesondheidsdienste en hospitale. Maar soos sake nou staan, weet ek nie. Hoekom mag mense nie rook nie? Al wat dit vermag het, is dat sluikhandel bevorder word want rokers rook steeds - teen 'n belaglike pryss. Hoe werk dit?
Ek het oor die algemeen ongeveer agt werkers, maar dit wissel omdat ek op 'n sub-kontrakteur basis werk. Gelukkig vir my, maar ongelukkig vir die werker hoef ek hulle nie te betaal as hulle nie werk nie. En al wou ek ook, kan ek nie omdat ek ook geen inkomste nou verdien nie en ek word verbied om te werk. 'n Mens bou 'n verhouding met jou werkers op, want hulle word soos familie. Maar wat doen mens as hulle jou bel en sê hulle het nie kos in die huis nie? Jy kan tog nie net vir daardie persoon sê nee, ek kan jou nie help nie. En hoe lank kan ek dit doen? Ek het steeds uitgawes wat betaal moet word en waarvoor ek my spaargeld moet gebruik en ook reëlings met die bank moes tref.
In hierdie stadium het ek geen opsies nie. Ons bedryf mag eers op vlak 2 begin en dit maak dit bitter moeilik om te beplan. Wanneer gaan vlak 2 ingestel word? Desember? Dit is tradisioneel bouers se vakansie. Weereens: Hoe beplan ek? Ek het ses, sewe maande voor en my geld moet hou tot dan. Ek weet nie wat die pad vorentoe is nie. Daar is bouers wat onwettig werk en ek kan dit verstaan, want jy moet vir jou gesin kos gee. Die ergste is die onsekerheid.
Dean Nel, René Haarhoff, Jarrod Nel
René Haarhoff, restaurant eienaar
'n Mens moet probeer verstaan wat die regering se oogmerk is, maar ek dink tog dit is 'n baie harde manier wat hulle gevolg het om dit te doen. Daar was al verskriklik baie onduidelikhede met vlak 5 en ek weet dis 'n nuwe Carte Blanche en hulle moes eenvoudig probeer om dit te maak werk. Ek het byvoorbeeld aanvanklik die heel eerste keer 'n lisensie gekry om handel te dryf, maar ek is binne ses ure aangesê om dadelik op te hou. Dit was oor daardie naweek wat die hele Woolies-ding was met die warm en koue kos. Ek het kliënte wat enkellopend is en elke dag hier eet wat ek moes wegwys. Dis ook nie winsgewend om net wegneemetes te doen nie, want die wins daarop is hopeloos te klein. Restaurante maak geld met die ekstras, soos byvoorbeeld drankies.
Myns insiens kan die groter besighede baie van hierdie goed makliker hanteer. Wat my bekommer, is die gesondheidsmaatreëls. Ek werk nou alleen, want as iemand hier siek word, gaan ek verantwoordelik gehou word en dit kan my besigheid heeltemal ruïneer. Dis nie dat ek my werkers nie 'n kans wil gee nie, maar ek kan nie. Watter klein besigheid kan agt werkers vir 'n maand siekverlof gee en die uitgawes wat daarmee gepaard gaan betaal? Want as een die virus kry, steek hy al die ander aan. Dit is 'n té groot risiko.
Ek het nie my mense afbetaal nie en hulle kry geld van die werkloosheidversekering. Ek het hulle die eerste ruk betaal, maar kan dit nie volhou nie.
'n Mens kan nie verlore kostes verhaal nie en moet dit ook nie probeer nie. Cut jou losses en bly positief. Die ondersteuning van die gemeenskap is ongelooflik. As jy kwaliteit en goeie diens gee sal mense na jou terugkom. Begin van voor af en kry stadig maar seker jou werkers terug. Ons maak nou elke dag gevriesde etes ook. 'n Mens moet jou besigheidsmodel verander en aanpas, want ek dink dit gaan twee of drie jaar wees voor dit business as usual gaan wees.
Johannie Vermeulen
Johannie Vermeulen, mede-eienaar van drankwinkels
Ek is baie bekommerd as ek vriende en kennisse hoor praat van as alles weer back to normal na die inperkingstyd gaan wees, terwyl hulle by hul huise sit en wag vir alles om weer na normaal terug te keer. Ek wil amper by julle pleit om uit die boks te begin dink. As jy nog 'n laaste botteltjie wyn iewers het - gooi 'n glasie. Waarvoor hou jy dit nou in elk geval? Trek papier nader en begin dink. Hoe kan jy jou besigheid 'n hupstoot gee om vir verlore tyd op te maak? As jy jou werk verloor het of die moontlikheid is daar dat jy dalk kan, wat is jou plan B? Kan jy 'n gaping in die mark vul?
Kyk na nuwe geleenthede en kanse, selfs kursusse indien moontlik. Bid daaroor en vra vir leiding. Sit die televisie af, bespreek en beplan die toekoms en brain storm met jul geliefdes. Moenie wag tot dit te laat is nie. Ons gaan nie net een oggend wakker word en alles is terug na normaal nie. Baie dinge in die wêreld én in Suid-Afrika veral, het bitter vinnig verander. Ons moet saam met dit beweeg en aanpas; die manier hoe ons interact, die manier hoe ons besigheid doen, die manier hoe ons vir ander omgee...
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'