Update
ALBERTINIA NUUS - Die handwerkgroep van die dienssentrum van Albertinia Versorgingsdienste het vanjaar weer gewys dat hulle nog vlytig met die vingers is.
Die Handige Goue Klokkies vergader elke Dinsdag as handwerkgroep wat onder leiding van vier vrywilligers nuwe vaardighede aanleer en vir liefdadigheidsprojekte brei.
Elma Hiten, Marina van Rensburg, Tersia Weitz en Alsa Hugo leer die ongeveer 20 dames nie net nuwe vaardighede aan nie, maar inspireer hulle ook om nuwe talente te ontdek.
Uitrustings vir vroeggebore babas en teddiebere vir kankerpasiënte is gebrei, handsakke van oorskietlappies is gemaak en nog vele ander items is vervaardig.
Sommige items word aan projekte geskenk en ander items mag die vroue vir hulself hou.
"Baie dankie aan elke lojale Handige Goue Klokkie en baie dankie aan ons vrywilligers wat hulle gawes met ander deel. Albertinia Versorgingsdienste is trots op julle," sê Aletta le Roux, bestuurder van Albertinia Versorgingsdienste.
Agter, van links: Ellen Saayman, Jakoba September, Alsa Hugo, Tulah Jansen, Susan Kannemeyer, Vanessa Petersen, Elma Hiten, Gerty Olckers, Lea Vaaltyn, Marina Janse van Rensburg en Katriena Plaatjies. Voor: Tersia Weitz, Susan Valtyn, Soes Nomdo, Katrina Heroldt, Bettie Nomdo, Lilly Tarentaal en Jacoba September. Foto's: Heinrich Fortuin, korrespondent
Lees 'n vorige artikel: Goue Klokkies woeker met hul talent
ARTIKEL & FOTO: HEINRICH FORTUIN, SUID-KAAP FORUM KORRESPONDENT
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'