HESSEQUA NUUS - "Ouma is oud, sy vergeet maar dinge."
Dinge soos vergeetagtigheid en verstrooidheid word as normale verskynsels saam met ouderdom aanvaar. Gewoonlik is daar niks behalwe frustrasie om oor bekommerd te wees nie.
Demensie, of soos dit populêr bekend staan as 'seniliteit' begin egter met dieselfde simptome. Wanneer is daar rede om hulp te soek?
Volgens suster Hannelie Heunis by Huis Stilbaai is die sleutelvraag of die verstrooide gedrag net vir 'n dag of twee voorkom en of dit elke dag waargeneem kan word. Indien demensie in 'n vroeë stadium teenwoordig is, sal dié gedrag net erger word.
Ander dinge waarvoor dopgehou kan word is of die persoon weet watter dag van die week dit is en of dit oggend of aand is. 'n Demensielyer maak nie meer sin uit die lig of donker wat hulle buite sien nie en sal byvoorbeeld in die oggend gaan slaap en in die aand opstaan en regdeur die nag wakker bly. Nog 'n weggee-simptoom is wanneer die persoon in sy/haar eie huis of in 'n bekende ruimte verdwaal. Hulle kan ook irrasionele dinge doen, soos om êrens heen te vlieg sonder om die vaagste idee te hê waar hulle is en waarom hulle op die vliegtuig geklim het.
Volgens inligting op die webtuiste www.mysupport.co.za kan daar ook defnitiewe veranderinge in emosionele gedrag waargeneem word. Iemand wat normaalweg geduldig en sagmoedig is verander dalk onverwags in 'n aggressiewe en selfs gewelddadige persoon. Angs, depressie en 'n geneigdheid om te vroetel kan ook skielik hul verskyning maak. Mense wat bekend was vir 'n lewendige belangstelling in nuusgebeure, se wêreld kan mettertyd so verklein dat net een kamer in die huis saak maak.
Heunis wys daarop dat sekere medikasie in ouer persone simptome wat lyk soos demensie kan veroorsaak. Hierdie gedrag is meer 'n delirium en is omkeerbaar. Dit kan onder meer ontstaan wanneer iemand se bloed 'n tekort aan suurstof het of hy dehidreer.
Omdat bejaardes se immuniteit dikwels laag is, kan enige infeksie ook tot verwarring en 'n gebrek aan koördinasie lei.
Die beste plan van aksie is om die persoon so gou moontlik by 'n psigiater te kry vir toetse om te bevestig of dit demensie is. Daar is middels beskikbaar wat die toestand heelwat kan vertraag. Indien medikasie verdink word, moet mediese hulp dringend ingeroep word.
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'