STILBAAI NUUS - Antoinette Olivier, wat vir dekades reeds 'n Stilbaaier is, maar tans in Pennington, KwaZulu-Natal vasgevang is tussen die plundery en pandemie na sy en haar man, Faan uit Pole teruggekeer het, vertel hoe hulle dit ervaar.
Op die oomblik is hulle weer in Pennington, vasgevang tussen die pandemie en die plundery rondom hulle.
“Familie en vriende wil weet of ons veilig is en ek antwoord graag ‘Ja, op die oomblik is ons veilig.’ Pennington het mense wat in nood kan saamstaan. Ons dorp het twee ingange – dit sluit nou toegang van die strand uit. Manne het met hulle bakkies so parkeer dat niemand sommer in of uit die dorp kan ry nie,” vertel sy. “Toe hierdie verskrikking rondom Durban gebeur, slegs ’n uur van ons af, het algehele en volslae magteloosheid en vrees mens gepak. Die N2 is gesluit. Paaie versper. Winkels gesluit. Geen brandstof nie.”
Maar hulle is steeds dankbaar. “Dankbaar dat ons vanoggend weer gesond wakker geword het. Dankbaar dat ons altwee die inentings gehad het. Dankbaar vir kos in die huis. Rustigheid so ver ons kan sien en hoor, behalwe op die TV-skerm waar die ellende voortduur, amper op ons voordeur.”
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'