SLANGRIVIER NUUS - 'n Plaaslike inwoner het Saterdagmiddag 20 Januarie net voor 17:00 tragies aan sy einde gekom toe hy in die Johnique Johannes-natuurtuin verdrink het.
Melvin September (43) was saam met 'n paar vriende by die dam wat na wyle Johnique Johannes vernoem is. Johnique het nagenoeg 20 jaar gelede ook in die dam verdrink.
Hartseertonele het hom by die dam afgespeel terwyl sy ouers, twee susters en een broer in spanning gewag het vir die polisieduikers om sy liggaam op te spoor.
Daar was ook honderde inwoners op die toneel wat gewag het vir die duikers om die liggaam uit die water te haal.
Brendan Sebybo, wat saam met September in die dam was, het hartseer vertel hoe hy sy vriend te hulp gesnel en tevergeefs om hulp geroep het terwyl nog ander mense in die park en op die wal nie 'n poging aangewend het om hom te kom help nie.
Daar is egter waarskuwingsborde in die park wat inwoners waarsku om nie daar te swem nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’