STILBAAI NUUS - By baie van Stilbaai se inwoners heers daar kommer dat die dorp te vinnig uitbrei.
Die vrees is dat daar in die toekoms probleme sal wees met veral water, riolering en verkeer. Sommige inwoners glo dat die bestaande infrastruktuur alreeds naby breekpunt is.
Tydens die algemene jaarvergadering van Stilbaai Belangeforum op 24 Februarie gaan die munisipale bestuurder van Hessequa-munisipaliteit, Albertus de Klerk, almal teenwoordig inlig oor die munisipaliteit se siening oor hierdie kwessies en ook hoe die munisipaliteit die situasie bestuur.
De Klerk sal gesels oor sy visie vir Stilbaai en meer in besonder watter sake voorkeur behoort te geniet om te voldoen aan die behoeftes van die snelgroeiende Stilbaai.
Gustav Radloff, voorsitter van die Stilbaai Belangeforum, sê dat hulle neem nie alleen kennis van die probleme rondom watervoorsiening, riolering en die steeds toenemende verkeer nie, maar is ook bekommerd oor die moontlikheid dat ongebreidelde uitbreiding die aard en karakter van Stilbaai nadelig kan beïnvloed.
In die huidige Suid-Afrika, waar heelwat munisipaliteite nie meer oor die vermoë of die middele beskik om behoorlik te funksioneer nie, word Stilbaai, waar alles nog werk, al meer en meer 'n voorkeurbestemming.
Dit is waarskynlik die hoofrede vir die dorp se snelle groei en die voordele, maar ook probleme, wat dit noodwendig meebring. Dit is weer tyd om hieroor te besin en te gesels.
Ook hierdie aspekte sal tydens die algemene jaarvergadering van die Stilbaai Belangeforum aandag geniet.
Die vergadering vind plaas op Vrydag 24 Februarie om 16:00 in die saal van Palinggat-oord.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'