HESSEQUA NUUS - Die aankondiging van pres Cyril Ramaphosa op Maandagaand, 14 Desember dat niemand op strande onder andere in die Tuinroete toegelaat sal word nie, het behoorlik skokgolwe veroorsaak en sal verreikende implikasies hê.
Die regulasies is Dinsdag, 15 Desember in die Staatskoerant aangekondig.
Alle strande in die Hessequa-streek, naamlik Witsand, Jongensfontein, Stilbaai en Gouritsmond, asook riviermondings sal vanaf 16 Desember vanjaar tot en met 3 Januarie volgende jaar gesluit word.
"Hessequa-munisipaliteit is tans met Garden Route-distriksmunisipaliteit, sowel as die departement van plaaslike regering en die premier in gesprek oor die interpretasie van die wetgewing en sal bykomende inligting bekend gemaak word sodra dit beskikbaar is," het Didi Budricks, munisipale kommunikasiebeampte in 'n amptelike persverklaring gesê.
Rachel Wall, voorsitter van Stilbaai-sakekamer het aan Suid-Kaap Forum gesê dat hulle reeds 'n vertoë aan die premier, Alan Winde gerig - en reaksie ontvang het. Die sakekamer het ook in Mei vanjaar, toe die sogenaamde Risk Adjusted Approach bekend gemaak is, 'n versoek vir verslapping van die inperkingsvlak met die nodige data oor die ekonomiese impak, sowel as die streek se Covid-19-gevalle aan die Wes-Kaapse regering gestuur. Daarin word onder andere melding gemaak dat Hessequa tot dusver min positiewe gevalle gehad het. "Ons het enkelsyfer Covid-19 positiewe gevalle in 'n totale bevolking van ongeveer 56 000. Die meeste gevalle het sedertdien volledig herstel."
Wall het bygevoeg dat die risiko bestaan dat die infeksiekoers wel tydens die feesseisoen sal styg, maar dat besighede daarop voorbereid is en alle veiligheidsmaatreëls in plek is om verspreiding te voorkom. "Met die samewerking van die publiek kan ons die risiko beperk en sodoende die negatiewe impak op die ekonomie verminder."
Sy het gesê dat bevestiging van die Wes-Kaapse toerisme-afdeling ontvang is dat hulle reeds met 'n voorlegging aan die regering besig is dat Hessequa se strande by die verbod uitgesluit moet word. "Die inligting van beide voorleggings deur die sakekamer is volgens die departement baie volledig en kan tot ons voordeel strek. Dus het ons darem hoop dat die skaal moontlik in ons guns kan swaai."
Dries de Beer, eienaar van Tabeel op Stilbaai het gesê dat die nuwe regulasies beslis 'n nadelige invloed op besighede sal hê. "Al verminder die besoekerstal van ongeveer 6 000 na 4 000, sal dit 'n groot verlies aan inkomste beteken. Die feestyd se inkomste maak in baie gevalle 'n derde van die besighede se inkomste uit."
"Die maatreëls gaan astronomiese gevolge op ons streek se ekonomie hê indien die strande gesluit word," het Lynette Cronjé, eienaar van Matchbox op Stilbaai gesê. Volgens haar gaan baie besoekers nou wegbly en voorraad soos swemklere, handdoeke en speelgoed sal op die rakke bly.
Intussen doen Hessequa-munisipaliteit 'n beroep op besoekers om steeds die beste waarde vir hul geld binne die regulasies te verkry en veilig en verantwoordelik op te tree om sodoende verspreiding te voorkom. "Restaurante en toerismebedrywe sal veral negatief geaffekteer word en die impak van die nuwe regulasies sal eers na die feesseisoen vasgestel kan word, omdat meer mense by hul huise en familie sal kuier en nie noodwendig sal huur nie."
'n Vergadering om gekoördineerde optrede te bespreek het Dinsdagoggend, 14 Desember tussen Hessequa se uitvoerende burgemeester, Grant Riddles, die bevelvoerders van die vier polisiestasies, asook die plaaslike wetstoepassers plaasgevind .
Wat die regulasies behels
- Kampterreine mag teen 'n maksimum van 50% bedryf word. Kampeerders wat reeds bespreek het, het die keuse om te kanselleer of te bly.
- Swembaddens sal tot 'n maksimum van 60 persone per swembad beperk word.
- Die dagkamp langs Preekstoel-kampeergebied op Stilbaai word met onmiddellike effek vir besoekers gesluit.
- Binnenshuise byeenkomste word tot 'n maksimum van 100 persone of minder, volgens die grootte van die lokaal, beperk.
- Skulpiesbaai buitelugarea sal op 31 Desember gesluit wees om 'n samedromming van mense te voorkom.
Vorige artikel: Al 6 blouvlagstrande gesluit
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'