Update
HEIDELBERG NUUS - Die op en wakker lede van C-skof van Heidelberg-polisie het vir die tweede keer binne 'n maand in die dorp toegeslaan toe hulle op dwelms by 'n sinkhuis in Dollar Square afgekom het.
Die skoflede, konstt. Carlet September, Keanan Fredericks en Salomi Erasmus, was Sondagmiddag 5 Augustus op pad na Slangrivier toe hulle op 'n wenk gereageer en ondersoek ingestel het.
Volgens ao. Alroy Windvogel, plaaslike mediawoordvoerder, het die lede die 32-jarige verdagte net na 15:00 in die huis gearresteer nadat hulle beslag gelê het op die dwelms met 'n straatwaarde van ongeveer R2 000. Die dwelms, waaronder vier heel Mandrax-pille, agt kwart pille, drie halwe pille, 54 bankies dagga en 21,2 gram los dagga was in 'n swart plastieksakkie.
"Die gemeenskap moenie huiwer om enige verdagte persone, voertuie of transaksies by die polisie te meld nie. Ons is baie dankbaar vir die persone wat dit reeds doen," het Windvolgel gesê.
Die verdagte sou Maandag 6 Augustus in die plaaslike hof verskyn op aanklag van besit en handel van dwelms. Die uitslag was teen druktyd nie bekend nie.
Die C-skoflede is van links konstt. Keanan Fredericks, Darryl Appel, sp.ao. Godfrey Jantjies, Salomie Erasmus met die sak dwelms en Carlet September met die verdagte (met sy rug gekeer) by die polisiestasie nadat hulle hom gearresteer het. Foto's: Clive Pretorius, korrespondent
Lees 'n verwante artikel: Polisie lê beslag op dwelms
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'