BUFFELJAGSRIVIER NUUS - 'n Boer van Kleinplasie het 'n herrie veroorsaak toe hy na bewering 'n inwoner van dié nedersetting se koei doodgeskiet het.
Volgens wat verneem word, was Edwin Temmers se koei op Ferdi Smit se plaas om deur sy bul gedek te word.
Klaarblyklik het Smit Temmers Vrydag 8 November gevra om die koei te verwyder.
Toe die koei Sondag omstreeks 18:00 steeds op die plaas was, het Smit die dier na bewering doodgeskiet.
Temmers se vrou Veronique het Smit glo gekonfronteer. Hy het na bewering gedreig om haar ook te skiet. Sy beweer hy het 'n vuurwapen om haar gerig.
Nog inwoners het op die toneel saamgedrom. Smit het klaarblyklik 'weggehardloop' en die inwoners het hom agterna gesit.
Massiano Abrahams (20) het Smit glo 'ingehardloop'' Toe Smit hom op sy hakke gewaar, het hy na bewering 'n skoot afgevuur en Abrahams gewond.
Kyk 'n video hieronder
'n Ambulansdiens is ontbied en Abrahams is na die Eben Dönges-hospitaal op Worcester geneem. Na verneem word het hy 'n ernstige wond opgedoen en baie bloed verloor. Volgens sy pa Francois Abrahams het hy 'n noodoperasie ondergaan en sy toestand is stabiel. Die ontstoke inwoners het na bewering rommel en motorbande aan die brand gesteek. Toe die polisie opdaag, is hulle met klippe bestook. Twee mans is in hegtenis geneem op 'n aanklag van openbare oproerigheid. Hulle is Maandag na polisiemediasie met die gemeenskap vrygelaat. Smit is ook op 'n aanklag van poging tot moord en kwaadwillige saakbeskadiging in hegtenis geneem.
Hy is Maandag vrygelaat omdat die polisie tot in daardie stadium nog nie verklarings van Abrahams jr. en ooggetuies afgeneem het nie. Hy sou weer Woensdag 13 November in die landdroshof op Swellendam verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Buffeljagsrivier, Hessequa nuus'