Update
STILBAAI NUUS - Die plaaslike laerskool, Bertie Barnard het 'n dringende behoefte aan 'n skoolbussie.
Om daardie rede gaan die skoolhoof, Nicky Deetlefs, 27 pa's en ondersteuners Vrydagoggend, 11 November, op 'n epiese rit met bromponies vanaf die skool om geld daarvoor in te samel.
Elke deelnemer moet mense of besighede werf om hom per kilometer te borg of om 'n bedrag te skenk. Die roete strek oor sowat 430 km en neem hulle deur Riversdal en oor Garciapas tot by Calitzdorp, waar hulle Vrydagaand by Die Stasie oornag.
Saterdag brul die bromponies tot by Warmwaterberg naby Barrydale en Sondag ry hulle weer terug na Stilbaai. Volgens Deetlefs is hulle op enige gebeurlikheid voorbereid met drie ondersteuningsvoertuie en 'n meganiese ingenieur in die groepie.
Hierdie "Hell's Angels" sit hulle lywe op die spel en al wat hulle vra is vir 'n paar note om die skool se eie bussie in 2023 te kan koop. Die skool benodig R700 000 vir hierdie droom.
Vir meer inligting, of om te borg klik jy net hier.
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'