Update
RIVERSDAL NUUS - 'n Brand wat op Saterdagoggend 16 September in Kwanokuthula ontstaan het, het die lewens van twee mense geëis.
Volgens polisiewoordvoerder, sers. Christiaan Jansen, het die brand omstreeks 00:35 in die Nkanini-woonbuurt uitgebreek en vinnig versprei. Ses sinkhokke is afgebrand voordat die brandweerdienste dit kon blus.
Jansen sê die liggame van 'n 29-jarige man en dié van 'n vierjarige dogtertjie is in die puin gevind. Daar was geen ander ernstige beserings nie.
Hoewel daar verskeie bespiegelings is oor die rede vir die brand, sê Jansen hulle is nog besig met die ondersoek om presies te bepaal hoe en waar dit ontstaan het. "Daar loop allerhandehande stories rond, maar geeneen is op feite gebaseer nie. Ons is besig met 'n ondersoek om agter die kap van die byl te kom."
Bekommerde inwoners het aan Suid-Kaap Forum vertel een groot probleem is dat die sinkhokkie op mekaar gebou word. Tot drie, vier hokkie sal op een erf opgerig word.
As daar 'n brand uitbreek, bemoeilik dit die werk van die brandweerdienste en noodhulpwerkers om hulp te verleen.
Een inwoner, wat verkies om anoniem te bly, sê prontuit die Hessequa-munisipaliteit moet ingryp en verhoed dat die mense hul sinkhutte teen mekaar bou. "As daar 'n brand uitbreek, versprei dit in 'n japtrap van hok tot hok.
Baie is van hout gebou wat maklik brand.
Dié sinkhuisies moet een per erf toegelaat word, want dit sal verhoed dat die vlamme vinnig versprei na ander strukture en ook vir helpers en die nooddienste makliker toegang gee tot 'n brand."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’