Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Dié dorp is weereens behoorlik geruk toe 'n brand 'n gesin van Diepkloof se huis verwoes en hul negejarige seun se lewe geëis het.
Die brand, wat glo in die voorkamer by die kragboks weens 'n moontlike kortsluiting ontstaan het, het teen ongeveer 23:40 in die woning van Jonathan en Eliza Miggels in Kershoutstraat uitgebreek.
Hul oudste seun, Peter, alombekend as Austen, 'n gr. 4-leerder aan De Waalville Primêr, het tragies as gevolg van rookinaseming gesterf.
Die Miggels-egpaar en hul drie ander kinders, Tashnique (13), Marique (7) en Bay-Lee (3), kon egter ongedeerd uit die brandende huis wegkom. Die gesin het alles, tot persoonlike dokumentasie soos hul ID's, geboorte- en trousertifikate asook bankkaarte, in die vlammehel verloor.
Eliza Miggels, alombekend as Lissie, vertel hartseer dat toe sy Maandagaand wakker skrik het sy gedink sy droom dat hul huis brand. "Ek het opgespring en gesien dat dit vreeslik brand by die kragboks, teruggedraai kamer toe en vir my man, Vollie, geskree dat die sitkamer en kombuis in vlamme is.
"Ons het na die kinders geroep en Vollie het my en die kinders deur die kamervenster uitgestoot."
Die egpaar sê in hul haas het hulle nie onmiddellik opgelet dat Austen nog in die huis is nie.
"Vollie het toe teruggegaan en Austen uit die huis gaan haal waarna die ambulans ontbied is. Hy het egter in die ambulans gesterf."
VIDEO: Kind brand dood in Heidelberg
Vollie en Lissie Miggels, ouers van wyle Austen, staan verslae in hul huis wat deur die vlamme verwoes is. Foto's: Clive Pretorius
Volgens Lissie was die brandweer vinnig op die toneel, maar daar was glo nie water in die eerste voertuig, 'n bakkie, nie en 'n tweede voertuig moes toe ontbied word. Sy loof haar bure wat met emmers water en tuinslange die vlamme onder beheer gebring het.
"Ek is ontevrede omdat daar nie water in die eerste voertuig was nie, want dan sou daar vele van ons besittings gered kon word," het sy gesê.
Die munisipaliteit het na 'n ter plaatse ondersoek besluit dat die huis struktureel onveilig is om te restoureer en dat dit gesloop moet word.
Daar word 'n dringende beroep gedoen om die familie te ondersteun met enigiets vanaf klere, meubels, 'n selfoon en finansieel indien moontlik. Mona Mduma, 'n familielid kan by 083 440 0716 geskakel word.
Die skade aan die huis kan duidelik hier gesien word.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'