Update
JONGENSFONTEIN NUUS - 'n Brand het Woensdagaand 12 Februarie groot skade vir die eienaar van 'n vakansiehuis veroorsaak.
Volgens ooggetuies het die probleem by die Jacuzzi wat op die stoep gestaan het, begin.
Die hitte het vensters laat breek en die vlamme het na die aangrensende woonvertrek versprei.
'n Buurman het die brand gesien toe hy omstreeks 20:30 gordyne by 'n venster van sy huis wat na die vakansiehuis se kant toe wys, gaan toemaak het.
Sol van der Merwe het een kyk gegee en vir sý buurman in die woonstel geskree: "George, bring 'n tuinslang en kom!" Ander inwoners het gou by Van der Merwe en George van den Berg aangesluit. Jongensfontein Inwonersvereniging se sleepwaentjie met brandbestrydingstoerusting wat altyd in die karavaanpark gereedstaan, was ook vinnig op die toneel. Danksy dié blitsige optrede was die vlamme volgens Van den Berg bykans reeds onder beheer toe Hessequa-munisipaliteit se brandweerwa aangekom het.
Die eienaar van die huis is Pieter Oosthuizen van Phalaborwa. Hy is nog verslae oor die gebeure: "Dis nie 'n lekker oproep om daardie tyd van die aand te kry nie."
Sowel die oorsaak van die brand as die omvang van die skade is nog onbekend. Oosthuizen reken 'n waardebepaling sal volgende week gedoen word.
Jongensfontein Inwonersvereniging se brandwaentjie op die toneel.
Die uitgebrande jacuzzi op die stoep. Foto’s: Deona Aucamp
Vorige artikel: Vakansiehuis beskading in brand
'Ons bring jou die nuutste Jongensfontein, Hessequa nuus'