HEIDELBERG NUUS - Wat 'n lekker familiebraai moes wees, het 'n slegte nadraai gemaak toe 'n gesin se wendyhuis in 'n oogknip deur vlamme verswelg is.
Die Hartnick-gesin van Robinsingel in Joe Slovo Park vermoed dat vonke van die braaivleisvuur waarskynlik deur die sterk wind wat skielik opgekom het, die brand veroorsaak het.
Die eienaar, William Hartnick vertel dat sy seun agter die huis besig was om te braai. "Die wendy was binne enkele sekondes in vlamme. Dit was nie moontlik om enigiets te red nie omdat die vlamme onkeerbaar gewoed het."
Volgens Hartnick bly sy skoonpa, Jannie Herder (72) in die wendy en is hulle net bly dat niemand seergekry het of hul lewens verloor het nie. Al hul besittings, waaronder 'n stoof, yskas, televisie en hul meubels is daarmee heen.
"Ons het die stoof, yskas en televisie gekoop en solank by my skoonpa gestoor terwyl ons die huis vir die Kersseisoen wou opknap," het hy gesê.
Hartnick bedank al hul bure vir hulle hulp om die vuur te probeer blus. Hy is egter teleurgestel dat daar geen brandweer of personeel beskikbaar was om die vuur te blus nie. Volgens Hartnick se vrou, Mariana was die personeel weg vir 'n kursus buite die dorp.
Enigiemand wat die familie van hulp kan wees kan Mariana kontak (063 468 7474).
Kommentaar deur Hessequa-munisipaliteit:
Hessequa Brandweer se jaarlikse gereedheidsoefening het op 25 November 2021 plaasgevind.
Die doel van hierdie oefening is om al die dorpe se voertuie en toerusting (tools) na te gaan om sodoende te verseker dat die munisipaliteit gereed is vir die komende Desember-feesseisoen.
"Die oefening was reeds afgehandel en die lede oppad terug na hul onderskeie dorpe toe die oproep deurgekom het van 'n struktuurbrand te Robinsingel, Joe Slovopark, Heidelberg. Die oproep is omstreeks 16:01 in die beheerkamer ontvang, die bakkie is om 16:03 uitgestuur en die enjin om 16:05.
"Hessequa-brandweer se bakkie het eerste arriveer en die enjin om 16:22. Met aankoms van die enjin was die vuur reeds uitgesit en die toneel veilig. Geen besering was aangemeld nie. Bogenoemde tye is aangeteken in die munisipaliteit se amptelike voorvalleboek."
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'