HEIDELBERG NUUS - "Plant 'n boom om 'n verskil te maak, want dis amper asof iets heiligs tussen twee mense gebeur as hulle 'n boom plant."
Dit is die woorde van Jan Odendaal, omgewingsaktivis en voormalige opvoeder tydens sy besoek aan Heidelberg om 'n groep jongmense toe te spreek.
Hy is op versoek van Quinton Adams, 'n boorling van dié dorp en opvoedkundige sielkundige wat wêreldwye erkenning as die sogenaamde Shackbuilder verwerf het, genader om sy kennis oor tuinmaak te kom aanbied. Die verrigtinge het gedurende Maart in die geskiedkundige Fourie-huis geskied.
Raadslid Heinrich Hartnick, Vennito van Niekerk (opvoeder en jeugaktivis), Garth Esau (opkomende boer), Haroldine van Niekerk (opvoeder) en 'n paar krieketklublede het die verrigtinge bygewoon.
Volgens Adams het hy sedert sy betrokkenheid met die shack-bouery die belangrikheid om 'n boom te plant besef en sodoende het dit sy belangstelling geprikkel om meer van boomplanting, asook tuinmaak te ontdek.
Die kundigheid van boomplanting bestaan in die land, maar Odendaal sê dit moet op 'n jong ouderdom ontwikkel word. "Ons moet die jeug inspireer om bome, maar veral suurlemoenbome te plant omdat dit groot gesondheidswaardes bevat. As jy 'n gesonde gemeenskap wil kweek, moet jy gesond eet."
Hy noem verder dat daar 'n kultuur van boomplant, maar veral vrugtebome geskep moet word. Indringerbome kan wel van nut wees deur meubels daaruit te vervaardig.
Odendaal het bygevoeg dat boomplantery as nalatenskap gebruik kan word. Hier het hy na projekte verwys waar daar by skole 'n boom geplant word om veral skoolhoofde wat noemenswaardige bydraes gelewer het, te vereer.
"Dis lekker om 'n verskil te maak. Te veel geld maak jou arm van gees. Kom ons neem verantwoordelikheid vir ons gemeenskap en plant bome, want dit verskaf ook suurstof," het hy die aanwesiges aangepor.
Daar is besluit om met 50 suurlemoenbome teen einde April te begin. Instansies soos skole, kerke en andere sal genader word om deel van die inisiatief te word om die kultuur van tuinmaak aan te wakker.
Belangstellendes wat meer inligting oor die projek verlang, kan Garth Esau (082 806 9502) skakel.
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'