RIVERSDAL NUUS - Boere in die Riversdal-omgewing is steeds omgekrap oor die smeulende kwessie van vullisverwydering.
Een so 'n bromboer, wat verkies om anoniem te bly, het aan Suid-Kaap Forum vertel hulle word op hul munisipale rekeninge vir vullisverwydering aangeslaan, maar geen vullis word verwyder nie.
Hy sê boere is ongelukkig hieroor en baie boere, hyself ingesluit, het die munisipaliteit genader oor die onbillike praktyk, maar sonder enige sukses.
"Die boere het die munisipaliteit kennis gegee dat hulle nie vir die vullisverwydering gaan betaal nie."
Nou, skryf anonieme boer, is die munisipaliteit so slim dat as jy as boer jou eiendomsbelasting betaal, gaan dié bedrag af teen die vullisverwydering en nie teen eiendomsbelasting nie.
"Dus bly jou rekening, wat jou eiendomsbelasting betref, in die rooi alhoewel jy jou volle eiendomsbelasting vereffen het."
"Ons as boere voel dat die munisipaliteit 'n arrogante houding het en gee hulle jou die idee dat hulle met die publiek kan maak net wat hulle wil. 'n Mens word forseer om vir 'n diens te betaal wat die munisipaliteit nie verrig nie. As jou rekening agterstallig raak as gevolg van die vulliusverwydering, sit die munisipaliteit 'n stop teen jou elektrisiteitsrekening en kan jy nie elektrisiteit koop nie."
Munisipaliteit reageer
Hessequa-munisipaliteit het by monde van Dulckerine Budricks, hoof van openbare betrekkinge en administrasie, as volg daarop gereageer:
Hessequa-munisipaliteit se Verordening insake die Wegdoening met Vaste Afval met spesifieke verwysing na Artikels 5 en 19, asook die "National Environmental Management; Waste Act" 59 van 2008 met spesifieke verwysing na Artikels 24 en 68, bepaal kortliks as volg:
- Geen vullis mag verbrand of begrawe word nie.
- Geen persoon behalwe die munisipaliteit mag vullis verwyder tensy gemagtig deur die munisipaliteit nie.
- Grondeienaars kan self hul vullis na die naaste goedgekeurde stortingsterrein neem en Hessequa Munisipaliteit doen die nodige verwerking daarvan.
- Hessequa Munisipaliteit het 32 massa vullishouers in die landelike areas uitgeplaas om grondeienaars te bedien. Die munisipaliteit verwyder die vullis en neem dit na die goedgekeurde stortingsterrein vir die nodige verwerking daarvan.
- Grondeienaars kan hul vullis dorp toe bring en die munisipaliteit verwyder dit na 'n goedgekeurde stortingsterrein en verwerk dit op die stortingsterrein.
Die grondeienaar in die landelike gebied mag dus sy vullis na 'n geskikte plek ('n stortingsterrein, 'n massa vullishouer in die landelike gebied of vullissakke in die dorp) vervoer vir verder verwydering deur die munisipaliteit.
In al drie gevalle is daar uitgawes vir die munisipaliteit om die verwerking van die vullis te behartig.
Verder bepaal die Verordening dat die munisipaliteit wel 'n heffing mag verhaal vir die verwydering van vullis en dat die belastingbetaler die heffing moet betaal of hy/sy van die diens gebruik maak al dan nie.
Die vullistarief vir landelike area is 70% goedkoper vir residensiële verbruikers en 50% vir besighede in die landelike areas omdat landelike eienaars die vullis self na die naaste verwyderingspunt (stortingsterrein, dorp of massa vullishouer) moet vervoer.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’