HESSEQUA NUUS - Suid-Kaap Forum het Donderdag 14 September afskeid geneem van joernalis Elize Blom, wat haar vlerke gesprei en in heeltemal 'n ander rigting haar werksloopbaan gaan voortsit.
Elize het voorheen by Northern Press in Polokwane gewerk, maar na haar egskeiding in 2001 verhuis sy na Oudtshoorn, haar geboortedorp met twee klein kinders, Lizmar en Janke.
Sy help 'n ruk uit as kantoorbestuurder by Die Neelsie Advertensieblad. In 2003 begin sy by die Oudtshoorn Courant en met haar geel Volla word sy gou 'n bekende gesig in die dorp.
Elize word gedurende April 2009 na Suid-Kaap Forum oorgeplaas en nou, na al die jare het sy besluit om te bedank en verhuis na Durbanville.
Lizmar is tans woonagtig op De Doorns en is werksaam by die Flight Centre op Worcester. Sy trou einde Oktober.
"Janke het nog nie onder mamma se fury vlerke uitgeklim nie," vertel Elize. Sy en haar eenjarige dogtertjie verhuis die einde van die maand saam na Durbanville.
Volgens Elize gaan dit 'n aanpassing by die nuwe werk, wat in 'n kunsrigting is, wees - maar sy sien dit as 'n uitdaging.
"Ek gaan 'n Jack of all trades wees, maar ek hoop om nou tyd vir my stokperdjie, skilder, te kry. En ek wou al lankal 'n boek oor ons drie susters skryf - dit gaan 'n best seller wees.
"My oudste sussie wil elke jaar met die KKNK hê ons moet opvoering doen; sy wil die draaiboek skryf, maar ek skop daarteen want ek het stage fright."
Lees 'n vorige artikel: Blom verplant haarself
'Ons bring jou die nuutste Hessequa nuus'