Gallery Update Video
HEIDELBERG NUUS EN VIDEO - Die grootste pampoen wat Donderdagmiddag 26 Maart tydens die Heidelberg grootpampoen-kompetisie ingeweeg is, het Suid-Afrika en die Suidelike Halfrond se rekords laat spat.
Die negende pampoenfees kon weens Covid-19 nie op 27 en 28 Maart plaasvind nie en is uitgestel tot later in die jaar, maar tydens die inweeg van die knewels het groot opwinding geheers.
Slegs kwekers wat hul pampoene vir die beoordeling gebring het en die media is toegelaat om die geleentheid by die skouterrein by te woon.
Kwekers het van 12:00 af die pampoene met bakkies en sleepwaens en selfs ’n vragmotor aangery. Die meeste van hulle is van die dorp en omliggende plase, maar daar is ook pampoene van Riversdal, Oudtshoorn en selfs so ver as Vyeboom tussen Villiersdorp en Grabouw gebring.
Altesaam 63 persone het sedert planttyd in Oktober 2019 ingeskryf. “Dit was ’n moeilike landboujaar en uiteindelik is net 34 pampoene ingeweeg,” het Altus Joubert, organiseerder gesê. “Hier het die laaste week of twee baie pampoene vrot geraak. Baie trane - maar dis hoe dit werk.”
Fotogalery: Pampoene ingeweeg vir Groot Pampoenfees
Die kleinste pampoentjie het 24 kg geweeg, terwyl die heel grootste een die skaal op 860 kg te staan gebring het. Piet Lotz van Blombos se enorme pampoen het nie net die Suid-Afrikaanse rekord van 613 kg gebreek nie, maar ook dié van die Suidelike Halfrond - ’n pampoen van 808 kg wat in Nieu-Seeland gekweek is.
Kyk 'n video hieronder:
Piet se vrou Elizna se pampoen van 553,50 kg het die tweede plek verwerf, terwyl Pinkie Swart se pampoen van 540 kg die derde plek behaal het. Pierre Jansen van Vuuren se knewel van 528,5 kg, wat onlangs op Suid-Kaap Forum se voorblad gepryk het, was in die vierde plek.
Die 15 grootste, asook die lelikste en mooiste pampoene het kontantpryse ter waarde van R40 000 gewen.
Piet Lotz het naas die R17 500 vir die grootste pampoen, nog R50 000 gewen omdat hy die SA-rekord en die 750 kg-kerf oortref het. Elizna het R8 000 en Swart R4 000 gewen. Die nuwe feesdatum sal later bekend gemaak word.
Vir sulke pryse is ’n mens bereid om hard te werk om ’n kampioenpampoen te kweek. Kwekers is dit eens dat die grond reeds in April met bees- en/of hoendermis en baie organiese materiaal voorberei moet word. Die saad van die vorige jaar se grootste pampoene wat skoongemaak en bewaar is, word dan aan die kwekers uitgedeel. Deeglike bemesting en genoeg water is nodig om die plant sterk te laat groei.
Wanneer die klein pampoentjies ontwikkel, moet die kweker besluit watter van hulle uitgedun moet word sodat verkieslik net een aan ’n plant oorbly. Om die jong pampoene teen steekvlieë en ander insekte te beskerm, word ’n sykous oor hulle getrek. Wanneer die pampoene groter raak, word hulle met skadunet of met ’n struktuur met selfs komberse oor teen die elemente en veral die son beskerm.
Die pampoene groei vinnig. Jansen van Vuuren sê ’n pampoen kan binne 24 uur tot 25 kg swaarder word indien die omstandighede gunstig is. Die ideale dagtemperatuur is tussen 25 en 30 grade Celsius.
Watter raad het die kwekers vir ’n wenpampoen? “Ek sing vir hulle,” terg Piet Lotz. “Ernstig: Dis maar al die aandag wat ’n mens op hulle neersit. As jy ’n pampoen kweek, kan jy vergeet daarvan om Desember te gaan vakansie hou - jy moet hom vir 160 dae lank soos ’n babatjie oppas.”
En wat maak ’n mens met so ’n groot pampoen? In die VSA word die pampoene, wat nie juis lekker smaak nie, vir veevoer gekweek. John Kleynhans, vragmotorbestuurder wat Arista Boerdery se pampoene met ’n vragmotor gebring het, meen anders. “Ons pampoene word in die koelkamer gestoor. Opgesnyde pampoen wat op die boeremanier in olie en met suiker op die stoof gebraai word, is vir my die lekkerste.”
IN SHORT:
The ninth Giant Pumpkin Festival, which would have taken place in Heidelberg on 27 and 28 March, had to be postponed as a result of Covid-19. The pumpkins were however weighed in on Thursday 26 March. The winners were Piet Lotz (860kg), Elizna Lotz (553,50kg) and Pinkie Swart (540kg). The winning pumpkin smashed the South African (613kg) and Southern Hemisphere (808kg) records.
Die pampoen word sommer so van die bakkie af opgetel om geweeg te word. Foto’s: Tisha Steyn
Altesaam 34 pampoene is ingeweeg.
Vorige artikel: Pampoen laat rekords spat
'Ons bring jou die nuutste Heidelberg, Hessequa nuus'