RIVERSDAL NUUS - Die ontwrigtende beurtkragskedules wat Eskom vuisvoos Suid-Afrikaners daagliks aan blootstel, bied nou 'n gulde geleentheid aan geslepe misdadigers om by huise, winkels en besighede in te breek.
Dis vir hulle soos manna uit die hemel, het die waarnemende kommunikasiebeampte van die Riversdal-polisie, ao. Hans Busch, Dinsdagoggend aan Suid-Kaap Forum gesê.
Hy sê dis veral huise en winkels wat geteiken word. "Die inbrekers is slinkse opportuniste wat veral in die vroeë oggendure toeslaan op hul niksvermoedende slagoffers. Ons ervaar beslis 'n opwaartse kurwe in huisinbrake en by besighede tydens beurtkrag en die rowers slaan gewoonlik toe tussen 02:00 en 04:30. Dis wanneer huiseienaars nog rustig slaap of winkeleienaars nog lank nie by hul werkplekke is nie. Dié inbrekers is uiters geslepe."
Busch sê beurtkrag is vir die deursnee Suid-Afrikaners 'n swaar las om te dra, maar die rampokkers buit die situasie uit om hul sakke te vul.
"Dis in die vroeë oggendure wanneer mense nie paraat is nie wanneer hulle toeslaan. Beurtkrag maak dit vir hulle baie makliker om in te breek en te plunder."
Wat die inbrekers se taak vergemaklik, is die besef, sê Busch, dat die polisie erg onderbeman is. "Ons is soms net drie polisiebeamptes aan diens tydens 'n skof en hulle moet die groter Riversdal-distrik, wat ook die omliggende plase insluit, verken. Een is in die aanklagkantoor, nog een moet by die selle 'n ogie hou terwyl die derde persoon nou die dorp moet patrolleer. Dit plaas 'n geweldige emosionele spanning op die beamptes aan diens.
"Ons moet dus staatmaak op buurtwagte om ons te help om strate en woonbuurte fyn te kam vir ongewenste elemente. Huiseienaars is ook versigtig, selfs te bang, om in die middernagtelike ure ondersoek in te stel as hulle 'n geraas op hul erwe of by die bure hoor.
"Ons het juis onlangs 'n voorval in Aloeridge gehad waar daar by die bure ingebreek is, maar dat niemand wou ondersoek instel nie omdat hulle bang was die inbrekers was gewapen."
Busch se raad aan alle huiseienaars is om nie self in die donker ondersoek in te stel nie. "Mens weet nooit waartoe die inbrekers in staat is nie. Bel liewers die polisie of jou buurtwag."
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'