STILBAAI NUUS - 'n Bestuursplan vir die Lappiesbaaiduine is reeds in 1993 deur Hessequa-munisipaliteit, in samewerking met die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR), departement omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning en die algemene publiek ontwikkel.
Hierdie bestuursplan is weer in 2011/12 hersien, ten einde dit in lyn met nuwe omgewingswetgewing te bring.
'n Volle publieke deelname proses is gevolg soos vereis deur toepaslike wetgewing.
Die omgewingswetgewing van toepassing is die Nasionale Omgewingsbestuur wet,
Wet 107 van 1998 wat as die primêre wetgewing beskou word en die onderliggende nasionale wet op omgewingsbestuur: Geïntegreerde Kusbestuur, Wet 24 van 2008.
Dié wetgewing is voorskriftelik ten opsigte van duine bestuursplanne se samestelling en verleen ook goedkeuring en uitvoering tot hierdie planne.
Van die toegangsroetes moes afgesper word om die publiek se veiligheid te verseker.
Die bestuursplan vir die Lappiesbaaiduine is op 10 April vanjaar finaal goedgekeur vir 'n periode van vyf jaar en rehabilitasiewerk daaraan is so geskeduleer dat dit met die reënseisoen van die gebied saamval, ten einde groei van duineplante te kan bevoordeel.
Rehabilitasiewerk het reeds in Junie begin. Mnr. L Barwell, voorheen verbonde aan die WNNR, was betrokke by die samestelling van die aanvanklike bestuursplan in 1993, die hersiening daarvan in 2011/12 en monitor die rehabilitasie werk op 'n gereelde basis.
Hy het ook 'n induksieprogram rakende die bestuursplan met die munisipale tegniese personeel gedoen, wat onder andere ook die hoogtebepaling van die duine insluit.
Gedurende Augustus en September vind seisoenale storms aan die Suid-Kaapse kus plaas en dit, tesame met springgety veroorsaak erosie van die voorduine.
Hierdie verskynsel en gepaardgaande gevolge daarvan word ook so geïdentifiseer in die bestuursplan.
Gedurende September sal deponering van sand weer plaasvind en die duine sal dan hul natuurlike vorm aanneem, wat die munisipaliteit weer in staat sal stel om die toegange te formaliseer.
Die wegkalwe van die duine het rondom 19 Augustus begin en om die publiek se veiligheid te verseker, het die departement van tegniese dienste die voorkant daarvan afgesper en ook die twee toegangsroetes in die middel, ten einde die publiek na die kante te kanaliseer waar toegang na die see wel toegelaat word.
Hierdie maatreëls is slegs tydelik van aard en die gemeenskap se geduld en samewerking word gevra.
Die bestuursplan en goedkeuring daarvan is beskikbaar op die munisipale webblad by www.hessequa.gov.za
'Ons bring jou die nuutste Stilbaai, Hessequa nuus'