STILBAAI NUUS - Stilbaai-sakekamer moet op 30 Mei seker die belangrikste besluit in sy bestaan maak.
Die sakekamer het gegroei tot een van die beste sakekamers in die land en is al aangewys as die heel beste in die Wes-Kaap en sy insette en aktiwiteite in die Stilbaai-omgewing vind weerklank ver buite sy grense.
Dit is egter tyd om aan te pas om sodoende relevant te bly in die voortdurende verandering van die besigheidslandskap.
Die dinamiese bestuur van Stilbaai-sakekamer het dus navorsing gedoen en na verskeie besigheidmodelle landwyd gekyk om te bepaal wat nodig is om in die huidige dinamiese markomstandighede relevant te bly.
Hulle uitgangspunt was dat hierdie vernuwing of verandering vir die Hessequa-gemeenskap en besighede waarde moet ontsluit.
Hierdie nuwe model gaan tydens die algemene jaarvergadering op 30 Mei om 18:30 by die Stilbaai-gholfklub in diepte verduidelik word en 'n besluit sal moet gemaak word of daar met die vernuwing voortgegaan moet word.
Dit is dus van kritieke belang dat soveel moontlik lede hierdie vergadering bywoon. Lede word aangemoedig om nie van buite af te kyk nie, maar deel te word van die verandering en sodoende 'n verskil te maak wat die besigheidslandskap in Hessequa nodig het.
Die sakekamer het dit dan ook goed-gedink om prof. Jannie Rossouw van die Universiteit van die Witwatersrand as gasspreker te kry. Hy is 'n professor in ekonomie en staan aan die hoof van die Ekonomie- en Besigheidswetenskapskool by die universiteit en het sy doktorsgraad met 'n studie van inflasie in Suid-Afrika verwerf. Hy het ook lank by die Reserwebank gewerk.
Prof. Rossouw gaan ondermeer gesels oor die impak van die ekonomiese klimaat op kleinsake en wat eienaars kan doen om risiko's te bestuur, sowel as die rol en belangrikheid van 'n oorkoepelende sake-organisasie in Suid-Afrika.
Hierdie is voorwaar 'n krities belangrike jaarvergadering en een wat nie gemis kan word nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’