SLANGRIVIER NUUS - Die 37-jarige passasier, wat saam met Andrew Hartnick voor in die bakkie was toe hy blykbaar beheer daaroor verloor en noodlottig beseer is, is reeds uit die hospitaal ontslaan.
Volgens sers. Imorgene Hendricks, Heidelberg-polisiewoordvoerder het die ongeluk Vrydag 27 Mei net na 19:00 op die Grootvadersboschpad buite Heidelberg gebeur.
Die voertuig, 'n Bantam-bakkie het langs die pad tot stilstand gekom na dit teen 'n boom gebots het.
Die vrou is met ligte beserings na Riversdal-hospitaal geneem. Hartnick (47) is op die toneel deur die ambulanspersoneel dood verklaar. 'n Klag van strafbare manslag word volgens Hendricks ondersoek.
Hartnick se vrou, Shirley, het gesê dat hulle van mekaar vervreemd was. Sy en een van haar swaers was Saterdagoggend by 'n tante van haar man op die plaas by wie hy gebly het.
Die tante het glo aan Shirley genoem dat sy en haar man tydens die ongeluk agter in die bakkie was, maar dat hulle weens skok van die toneel gevlug het. Sy het blykbaar 'n kopbesering opgedoen wat sy self behandel het. Haar man is nie beseer nie.
Andrew Hartnick laat sy ouers, vier broers, ‘n suster en een seun, naamlik Anthony Ngwenya en sy vrou agter. Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
Die bakkie het baie skade opgedoen. Foto: Clive Pretorius
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'