Gallery
STILBAAI NUUS - Laerskool Bertie Barnard het van Dinsdag 26 tot Donderdag 28 September vir drie dae om die wêreld getoer.
Volgens die skoolhoof van Bertie Barnard, Nicky Deetlefs, het hulle spesifiek die kultuurtema vir die opvoerings gekies.
In die verlede het hulle jaarliks 'n groot skoolkonsert in die saal aangebied, maar toe Bertie Barnard uit sy nate bars moes hulle noodgedwonge die skoolsaal opdeel in klaskamers. Hulle het dus besluit dat elke graad 'n kort opvoering in die klas sou gee en het dit oor die drie dae versprei.
Daar was dus elke aand twee of drie grade wat hul opvoerings agt keer herhaal het om al die ouers en belangstellendes geleentheid te gee om dit by te woon.
Die klaskamers is pragtig omskep in die lande wat daardie graad voorgestel het en die kostuums was uit die boonste rakke. Daar was natuurlik ook 'n spookhuis, met 'n paar gr. 7-seuns as spoke.
Elke graad was ook verantwoordelik om kos uit die land wat hulle gekies het voor te sit by die kiosk en die heerlikste geure het daar rondgehang.
Dinsdagaand het afgeskop met die Hartlief se gr. 2- en gr. 6-klasse.
Die Hartlief-klas het Madagaskar voorgestel en het hulle lyfies geskud op I like to move it. Duidelik het Christelle Taljaard, Veronica Wessels, Juanéca Saayman en Maria Kortjé baie ure ingesit om hulle so pragtig te laat dans.
Die gr. 2-klas was in Griekeland met Elzette van Schalkwyk, Mariska van Wyk en Cameron Smith. Zorba se danspassies het die klaskamer gevul en hulle wou net borde breek.
FOTOGALERY: Laerskool Bertie Barnard toer om die wêreld
Die gr. 5-dogters in tipiese China drag.
Toini van Heerden en die gr. 6'e was in Brasilië en meer spesifiek in Rio De Janeiro in tipiese karnavalgees en het jou behoorlik lus gemaak vir vakansie.
Woensdagaand het Niah Bahnsen, Karla Vermeulen en Verona Pieterse die gr. 4-dogters Egipte toe gevat, terwyl die seuns die rubbelsteweldans (gumboot) gedoen het in 'n mynskag in Suid-Afrika. Daar is ook in tale gespreek.
Die gr. 1-klas was in die VSA saam met Annelize de Villiers en Elrika Kleynhans en behalwe vir die "can-can danse" het die Rooihuide ook hul spiese gereed gekry met 'n oorlogsdans om die vuur.
Donderdagaand het die gr. 3- en gr. 5-klasse die kultuurweek afgesluit. Friena Müller en Bridgette Bell-Cross het Frankryk met die gr. 3's besoek. Hulle was by die Eiffeltoring en natuurlik ook in die Moulin Rouge voordat hulle die straatkunstenaars langs die Seine 'n ding of twee gaan leer het.
Bea Giliomee en Toini van Heerden was saam met die gr. 3-klas in verre China waar hul karatevaardighede behoorlik getoets is in 'n geveg met 'n draak. Die meisies se elegante kant het gewys met pragtige danspassies.
Daar was natuurlik elke aand 'n spookhuis wat deur die gr. 7's aangebied is en hier is werklikheid verwring deur fantasie. Nodeloos om te sê die spookhuis was elke aand stampvol. Chrisna Meyer, Janine Olivier en Carla Gast het gesorg dat die spoke nie handuit ruk nie en het gereed gestaan om besoekers te lawe.
Stilbaai-polisie, die brandweer en die verkeerspolisie het ook deur die dag die leerders toegespreek.
Die opgewondenheid en passie waarmee die leerders die kultuurweek aangepak het aan die einde van 'n kwartaal en ver buite skoolure is werklik 'n pluimpie in die hoed van elke Bertie Barnard-personeellid en leerder en hulle is waarlik die trots van Stilbaai.
Die gr. 6'e hou karnaval in Rio de Janeiro.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’