RIVERSDAL NUUS - Koos Grobbelaar, die voormalige prokureur het geen bekendstelling nodig nie, maar as skrywer is hy nuut in die bedryf.
Sy eerste roman, Die tweede aanspraak, het pas verskyn en is geïnspireer uit die wel en wee van sy voormalige kliënte.
Grobbelaar woon op Stilbaai. Hy het in Stellenbosch grootgeword, aan Paul Roos Gimnasium matriek geskryf en by Maties studeer. Hy het sy basiese militêre dienspligopleiding op Oudtshoorn gedoen. Sy boek speel juis op die plase rondom dié Klein-Karoodorp af. Maar die rustigheid van Stilbaai, waar daar min steurnis is, het hom gehelp om die woorde op papier te kry.
Sy belangstelling in skryf verduidelik hy so: "Ek het al die jare met skryf te doen gehad - as student en nagraads, maar ook as prokureur.
Party mense skilder, ander maak musiek en ander skryf - jy besef nie jy het die talent voor jy dit tot uitvoer bring nie." 'n Vriendin se opmerking het die bal aan die rol gesit. "Sy het gesê ek praat so baie nonsens, ek kan dit net sowel op skrif sit. Toe begin ek skryf."
Die roman is geïnspireer deur die kliënte met wie hy gewerk het. Volgens hom is die boek fiktief met fiktiewe karakters, maar dit is tog in die werklikheid gewortel.
"Daar was kliënte wat weens regstellende aksie pakkette moes aanvaar. Dit het hul lewens vreeslik omvergewerp en tot sekondêre probleme gelei. Dis mos hoe die lewe is: Nes jy dink alles loop normaal, verloop dit abnormaal.
"Die manier hoe mense aanpas het die saadjie vir die boek geplant. Ek wou die mense se ervaring positief aanbied. Ek glo as 'n mens in 'n mate beheer het oor 'n negatiewe ding wat gebeur het, kan jy dit in iets positiefs omskakel."
Hy het omtrent 'n jaar lank aan die boek geskryf, maar terselfdertyd ook aan twee ander gewerk.
Oor die ander boeke wil hy nie nou al die aap uit die mou laat voor dié een in Januarie bekend gestel word nie.
'Ons bring jou die nuutste Riversdal, Hessequa nuus'